Sekuriteitswagte hou asem op vir loonverhogings

Yolanda Nel
Yolanda Nel

Hoewel addisionele loonverhogings vir sekuriteitswagte wat reeds langer as ‘n jaar werk, op 1 Julie in werking tree, wag hulle steeds op hul loonpassings wat al in Januarie moes inskop.

Die verhogings is verlede jaar in Desember beding na sekuriteitswagte daaroor gestaak het. Daar is op ‘n 25% verhoging ooreengekom wat op 1 Januarie vanjaar in werking sou tree. Dit sou die N$7 per uur na N$8.75 per uur verhoog.

Wagte wat reeds ‘n jaar by ‘n maatskappy werksaam is, sal vanaf 1 Julie na ‘n addisionele 15% verhoging kan uitsien, wat die minimum loon na N$10 per uur verhoog.

Die president van die Sekuriteitvereniging van Namibië (SAN), Dries Kannemeyer, het gesê dat die Government Gazette van 1 Junie 2017 belangstellendes tot 30 Junie geleentheid bied om beswaar teen die aanpassings aan te teken. “Indien geen beswaar aangeteken word nie, sal die sekuriteitswagte se lone terugwerkend vanaf 1 Januarie aan hulle betaal word,” sê hy.

As enige beswaar gemaak is, sal dit met die Namibiese sekuriteitsarbeid forum (NSLF) bespreek word.

Die SAN is juis daargestel om te verseker dat sekuriteitsmaatskappy gehoor gee aan ooreenkomste wat aangegaan word. Die probleem ontstaan wanneer sekuriteitsmaatskappye nie aan die vereniging behoort nie. “Indien ‘n maatskappy nie ‘n lid van SAN is nie, hoef hulle nie aan vereistes gehoor te gee tot na sulke vereistes in die Government Gazette gepubliseer is nie,” sê Kannemeyer.

Net 31 van die 115 sekuriteitsmaatskappye het in 2012 aan SAN behoort. Volgens Kannemeyer het daar sedertien nie meer maatskappye betrokke geraak nie.

Volgens Ndeshi Annanius van die Namibiese unie vir sekuriteitswagte (NASGWU) sal hulle ‘n vergadering met sekuriteitsmaatskappye reël om na enige besware te luister. “Daar is kleiner maatskappye wat ‘n verhoging bloot nie kan bekostig nie. Dit word veral gesien binne maatskappye wat sekuriteitswagte by skole laat wag hou,” sê sy. Volgens haar word van die wagte ook nie betyds betaal nie.

“Tog is hierdie minimumloon aangepas en diegene wat dit nie nakom nie, sal by die arbeidskommissie aangegee word,” sê Annanius. Sy sê dat maatskappye wagte op Sondae en publieke vakansiedae dubbel moet betaal vir oortyd.

Die minimumloon vir sekuriteitswagte was in 2012 N$3.80 per uur en het in 2015 van N$5.30 na N$6.75 verhoog en later na N$7 per uur.