Kameras maak buurt veiliger

Yolanda Nel
Yolanda Nel

Pionierspark se buurtwag het onlangs 24 kameras in hierdie uitbreiding geïnstalleer in ‘n poging om misdaad te verminder.

“Dit is belangrik om stelsels in plek te hê om te verseker misdaad neem af,” sê Erik Strauss, voorsitter van dié buurtwag. Met die kameras is dit makliker om verdagte aktiwiteite raak te sien. “Ons kan ook baie vinniger reageer indien iets gebeur,” sê hy.

Die buurtwag, in samewerking met Wanderers, gaan ‘n addisionele 12 kameras op die sportgronde laat installeer. “Veral met die privaatskolenaweek om die draai, is dit belangrik om te weet die sportgronde is so veilig moontlik.”

Dit is vir die buurtwag goed om te sien dat die mense en sakeondernemings saamstaan en hulle ondersteun om misdaad te bekamp. “Ons het ‘n regte familie geword,” sê hy.

Met sowat 8 000 mense wat die privaatskolenaweek gaan bywoon, is die buurtwag reeds deur die Windhoek Afrikaanse Privaatskool genader om patrollies in die omgewing te doen. “Ons motors sal veral in die aande wanneer daar nog aktiwiteite op Affiespark plaasvind, die area patrolleer,” sê Erik.

Hoewel dit nie op die oomblik moontlik is nie, sou hulle die kameras graag 24 uur per dag wou monitor. Tans word die kameras uit Erik se huis gemonitor, maar hy is nie my magte om dit voltyds te doen nie.

Indien enige probleme in Pionierspark ondervind word, word inwoners aangemoedig om die buurtwag by 081 229 8888 te skakel.