Regulering bly 'n uitdaging

Yolanda Nel
Yolanda Nel

Bykans drie maande ná die Kleine Kuppe buurtwag (KKNHW) ’n petisie aan die Windhoekse munisipaliteit oorhandig het om te verhoed dat bouers op boupersele oornag, het die raad uiteindelik terugvoer gegee.

Volgens die hoofuitvoerende beampte van die stadsraad, Robert Kahimise, laat bouregulasies toe dat ’n skuur opgerig mag word, maar dat dit net as stoorplek vir boutoerusting gebruik mag word.

“Die regluasie maak nie voorsiening daarvoor dat bouers op die perseel mag oorslaap nie. Die beheer hiervan hou egter problem in, omdat werksure op konstruksiepersele nie gereguleer word nie,” sê hy.

Kahimise het gesê dat sanitêre fasiliteite ook ’n voorvereiste is. “Die gebruik van ablusiegeriewe is egter meer ’n opvoedkundige uitdading en kan dit nie maklik gereguleer word nie,” het hy in ’n verklaring gesê.

Die petisie het gekom na inbrake in Kleine Kuppe toegeneem het. “Misdadigers gebruik boupersele as skuiling en doen hulself as bouers of sekuriteitswagte voor,” sê Sarel Hannekom van die KKNHW.

Vir Hannekom is dit belangrik om die buurt so veilig moontlik te hou. Omdat daar tans baie ontwikkeling in dié deel van die dorp plaasvind, moet almal juis meer versigtig wees. “Ons moet aan die veiligheid van ons inwoners dink,” sê hy.

Meer as 600 inwoners het die petisie geteken in ’n poging om te verhoed dat mense op boupersele mag oornag.

In die munisipale verklaring het Kahimise opnuut die raad se verbintenis om ’n kwaliteit lewe aan alle inwoners te verseker, bevestig.