Verhogings knaag aan minimum loon

Yolanda Nel
Yolanda Nel - Met munisipale verhogings wat verlede week deur die Windhoek munisipaliteit aangekondig is, wonder talle inwoners hoe hulle die gordel moet stywer trek om die verhogings te kan bekostig.

’n Sekuriteitswag wat anoniem wil bly, het aan Windhoek Express gesê sy maandelikse inkomste is tans N$3 800. Daarmee onderhou hy homself, sy drie kinders, sy ma en suster. “My ma het onlangs pensioen begin kry, maar my suster werk glad nie,” sê hy.

“Die munisipale verhogings sal my dwing om my spaargeld vir hierdie ekstra uitgawes te gebruik en hoe moet ek dan spaar?” vra hy.

“Diegene wat ’n minimum loon verdien, gaan niks oorhê nie,” sê hy.

Hy is al lank besig om te spaar vir sy eie huis en ’n motor. Hy wil ook graag sy kinders in ’n privaatskool sit om hulle die beste onderrig te kan bied. “Hoe kan ek dit bekostig as alles net duurder word? Dis onmoontlik. Wie trek voordeel uit hierdie verhogings?”

Sy huur beloop N$600 ’n maand en ’n bykomende N$200 vir water en N$400 vir elektrisiteit. Hy koop twee keer ’n maand kos wat saam sowat N$650 beloop en dan “is daar darem so bietjie vleis ook,” sê hy.

Sowat N$200 word aan skoonmaakmiddels en seep bestee om seker te maak die kinders en die huis is mooi skoon.

Klere is ’n luukse, maar soms word daar ’n paar skoene en ’n broek gekoop, en in die winter moet almal ’n baadjie kry. “’n Goeie paar skoene wat lank gaan hou, kos N$350 en ’n broek is N$250. Baadjies vir die winter is nóg duurder,” vertel hy.

Volgens George Esterhuizen van die Windhoek munisipaliteit sal watergebruik met 13% styg, huishoudelike vullisverwydering met 10% en eiendomsbelasting met 15%. Die verwydering van vaste-afval en riooldienste verhoog onderskeidelik met 10% en 7%. Die elektrisiteitsverhoging moet nog deur die Elektrisiteitsbeheerraad (ECB) goedgekeur word en die munisipaliteit het nog geen terugvoer ontvang nie. Die verhogings is reeds sedert 1 Julie in werking.

Die stadsvaders het uiteengesit hoe die verhogings die lae inkomste huishoudings sal beïnvloed. Gesamentlik sal munisipale dienste N$70,36 ’n maand meer kos. Tweehonderd eenhede elektrisiteit sal nou N$402,32 kos, wat N$26,23 meer is as in die verlede, terwyl 6 kiloliter water nou N$13,86 duurder is en N$120,48 beloop.

In die gemiddelde inkomste huishoudings, sal die verhogings verbruikers nou N$190,02 meer per maand uit die sak jag en hoë inkomste huishoudings sal N$427,10 meer per maand vir munisipale dienste betaal. “Inwoners wat hul eie verbruik kontroleer, hetsy dit water of elektrisiteit is, moet dit goed beheer,” sê Esterhuizen.

Die bedryfsuitgawe vir die 2017-2018 finansiële jaar word op N$4 689 miljard begroot, teenoor ’n bedryfsinkomste van N$4 186 miljard. “Dit weerspieël ’n begrotingstekort van N$504 miljoen,” sê Esterhuizen. Dit sluit ’n waardevermindering op bates van N$406 miljoen in, sê hy.

Volgens hom bied die munisipaliteit basiese dienste aan alle inwoners van die hoofstad sonder winsbejag om te verseker dat munisipale dienste nie onbekostigbaar word nie. “Die implementering van infrastruktuur vir basiese dienste moet bestuur word, terwyl die raad waaksaam moet wees om bekostigbare finansiële vlakke te handhaaf.”