Savanna-beleggings ’n ‘reuse sukses’

Produsente sorg self vir 73% van kapitaal
Altesaam 549 produsente het met 'n indrukwekkende N$146 miljoen vorendag gekom, wat beteken nog net N$54 miljoen is nodig om die nodige kapitaal van N$200 000 te hê.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh
Namibiese beesboere het in totaal ’n indrukwekkende N$146 miljoen in die beplande Savanna Beef Processors (SBP) belê en dus self sowat 73% van die beskikbare N$200 miljoen-aandele opgekoop.
Mnr. Mecki Schneider, voorsitter van die Forum vir die Beesvleiswaardeketting (BVCF,) het Vrydag in ’n mediaverklaring gesê hulle beskou hierdie as ’n “reuse-sukses, gegewe die aanvanklike teiken om N$100 miljoen van produsente in te samel.”
Hy sê altesaam 549 beesprodusente het in die beplande uitvoer-abattoir belê. Die eerste beleggingsronde het van 24 April tot 24 Junie geduur, waartydens Cirrus Capital en lede van die BVCF se taakspan landswyd gereis het om die projek se beleggingstrategie asook sakeplan aan die land se beesboere bekend te stel.
“Die volgende stap is om die res van die kapitaal te versamel om die teiken van N$200 000 te bereik. Tans is die SBP-raad besig om ’n strategie te ontwikkel om die uitstaande N$54 miljoen in te samel – moontlik deur ’n tweede ronde vir beleggings in die tweede helfte van 2022,” het hy gesê.
“Tot nou het die projek, wat ’n produsent-gedrewe inisiatief is, wye en ongekende ondersteuning uit die Namibiese beesboerderygemeenskap ontvang, met die insamelingsproses van kapitaal wat die laaste weke van die eerste ronde momentum begin kry het,” het Schneider gesê.
REGERINGS-ONDERSTEUNING?
Dit blyk dat die regering ook “saamstem” met die inisiatief.
Mnr. Calle Schlettwein, die minister ­ van landbou, water en grondhervorming, het die verlede week tydens Bank Windhoek se aanlyn landbou­praatjies gesê “ons stem saam met diegene wat werk vir ’n beter balans tussen speenkalf- en beesvleisuitvoere.”
Hy het vermoedelik na die forum se werk verwys en bygevoeg dat Namibië se lewendehawe-produksievlakke ver onder die potensiaal is en ook die sweep ingelê oor “geregistreerde abattoirs” waar die situasie “desperaat” is, met geen een wat glo ’n sterk genoeg deurset het om dit lewensvatbaar te maak nie.
“Die instansies wat geskep is om produsente te help, het ’n las vir hulle geword. As gevolg van gebrek­kige bestuur word daar druk op pryse geplaas en ondersteunende dienste aan produsente verminder.
“Ons het ondernemings nodig wat produsente waarlik ondersteun, beide deur middel van ondersteuningsdienste en beter pryse vir beheerde produkte,” het hy bygevoeg.
Schlettwein sê waar moontlik moet Namibië beeste produseer wat slaggereed is. “Waar dit nie moontlik is nie, is speenkalfuitvoere die antwoord,” het hy gesê.
Hy het bygevoeg dat Namibië verander het na ’n produseerder van roumateriaal en ’n invoerder van verwerkte vleisprodukte, wat beteken die land mis die geleentheid op beduidende ekonomiese voordele binne die winsgewende markte.
TUISGROEI
Schneider het Vrydag ook gesê die forum se inisiatief bevorder die regering se “tuisgroei-strategie, terwyl SBP buitelandse valuta sal verdien, werksgeleenthede sal skep en as ’n inisiatief beskou word “wat die krimpende landelike ekonomie in Namibië kan omkeer”.
Hy het gesê die projek se doel is om ’n volhoubare slagbees- en bemarkingsbedyf te skep, en om ’n vooruitstrewende toekoms vir die Namibiese beesvleisbedryf te verseker met behulp van winsgewende beesvleis­uitvoere.
“As voorsitter van SBP en namens die BVCF-taakspan, wil ek alle produsente bedank wat die vertroue gehad het om in hierdie nuwe beesvleisverwerkingsfasiliteit te belê.
“Dit is ’n duidelike bewys daarvan dat daar ’n behoefte bestaan om die winsgewendheid van beesboerderye te verbeter. Die meeste van ons is oorweldig deur die ondersteuning. Deur dié produsent-gedrewe inisiatief moet ons beheer van ons produk neem tot voordeel van produsente,” was sy woorde.
“Deur die private plasing vir Savanna Beef Processors Ltd het ons ’n unieke uitdaging aangepak om ’n nuut-geïnkorporeerde, openbare maatskappy te kapitaliseer en slegs beesvleisprodusente te nooi om deel te neem,” het Cirrus Capital se mnr. Romé Mostert gesê.
“Cirrus Capital se span is verras deur die geesdrif van die Namibiese boerderygemeenskap en die opgewondenheid om deel van die nuwe projek te wees,. Dit was werklik ’n eer om betrokke te wees by hierdie proses saam met die BVCF en Savanna,” sê Mostert.
AGTERGROND
Schneider het verduidelik ’n voorlopige haalbaarheidstudie van die Namibiese beesvleiswaardeketting, wat vroeg in 2020 afgehandel is, het die tekortkominge in die bedryf uitgewys. Daar is toe ook ’n opname van die winsgewendheid van beesvleisuitvoere gemaak.
Hy sê die BVCF het dit opgevolg deur ’n volledige haalbaarheidstudie asook ’n finansierbare sakeplan, wat deur die forum en sy lede goedgekeur is. Dit het tot die registrasie van die maatskappy SBP gelei en daarna is die insamelingsproses vir kapitaal begin.