‘Oekraïners is veerkragtig’

Hulle werk, ruim op, plant en herstel
Olga vertel waardeur haar familie en landsgenote gaan.
Tanja Bause
“Ons Russiese familie het elke somer by ons in Zaporizhzhia kom kuier. Hulle het dikwels tyd saam met ons by die see deurgebring. Hulle het hulle vakansies in die Krim, die gebiede wat nou tydelik beset is, deurgebring. Dit het gelyk asof ons baie lief vir mekaar is,” het Olga Nesterenko (47) gesê.
Sy is in Oekraïne gebore. Sy is egter van Oekraïense en Russiese afkoms. In 2013 het Olga haar man Namibië toe gevolg en hulle bly tans in Swakopmund.
“Ek het in Zaporizhzhia grootgeword en ná skool aan ’n mediese universiteit gegradueer wat talle buitelandse studente gehad het, insluitend Namibiese studente. Hulle moes hul studies onderbreek. Een van die voorbeelde dat die oorlog nie net Oekraïners raak nie. Die onderrig gaan nou voort, hoewel dit aanlyn is.”
Sy het egter elke jaar haar somer- en wintervakansies saam met haar ouma, oupa en familie in Rusland deurgebring. Sy was in 2013 die laaste keer in Moskou en in 2018 in Oekraïne. Daarna is die grense weens die Covid-19-pandemie gesluit voordat die oorlog begin het.
“Die meerderheid van my familie bly in Rusland, maar my naaste familie is in Oekraïne – so ook my vriende. Van my vriende het hulle kinders eers na veiligheid geneem en toe teruggekeer om as dokters te werk. Nie baie van my geliefdes het die land verlaat nie.”
Op 22 Februarie 2022 het Rusland Oekraïne ingeval.
“Ek onthou nie my eie gevoelens nie, ek onthou my hondjie wat toe so 10 maande oud was se reaksie. Sy was baie aktief. Sy het egter vir ’n paar dae net by my gesit en glad nie gehardloop of gespeel nie.
“Niemand in die Oekraïne het geglo so iets is moontlik nie. Ons het toe nog gedink die mense in Rusland is menslik. In die middel van Februarie het ek my dogter gevra om die land te verlaat, maar niemand wou na my luister nie.”
Olga het op 24 Februarie omstreeks 04:00 wakker geword en besluit om ’n kragbank vir haar ma op die internet te soek. Sy het vir omtrent ’n uur gesoek voordat sy begin het om die nuus te kyk.
“Die kragbank het vir my ’n uur se lewe gegee. Toe begin die oproepe, baie oproepe. Ek het onderhoude met die plaaslike media gedoen om bewusmaking te skep.”
Tussendeur alles het sy probeer om met haar familie in Rusland kontak te maak. Hulle het nie met haar kontak gemaak nie en op die 26ste het Olga hulle gebel.
“Hulle kon nie verstaan hoekom ek paniekerig was nie. Ek het vir hulle ’n video gewys van huise wat heeltemal verwoes was. Hulle het vir my gesê ek wys vir hulle ’n fliek.
“Hulle het ook gesê ek hoef nie bekommerd te wees nie omdat die oorlog binne drie dae verby sal wees. Ek het eers ses maande later besef hulle het werklik geglo dat Kiëf binne drie dae verower sal word.
“Hulle het ook gesê hulle red ons van die Nazi's. Hulle wou nie hoor ons het geen Nazi's nie, en dat ek veilig Russies in Oekraïne kan praat.
“Hulle het my eenvoudig nie geglo nie. Natuurlik het hulle my nie geglo toe ek hulle vertel het oor verkragtings en martelings deur Russiese soldate in die tydelik besette gebiede nie.
Soos die tyd verby gegaan het, het dinge aansienlik erger geword. Olga en haar familie in Oekraïne is ook as Nazi’s bestempel.
“My familie in Rusland glo in gevegsmuskiete, wat net die Russiese bevolking teiken, en in Navo-troepe – wat in my huis se erf in Zaporizhzhia is – voorkom. Al hierdie familielede is geleerde mense.
“Hulle het nog nooit gevra: ‘Hoe gaan dit met my suster/tannie/ouma/neef/niggie in die Oekraïne nie?.’ Ek is van daardie families wat die Russiese regering stukkend geskeur het.”
“Ek onthou in 2014, toe Rusland die oostelike deel van die Oekraïne en die Krim beset het, die vreemde goed wat my neefs sedert 2006 gesê het. Ek het dit in daardie stadium nie verstaan nie. Toe het ek. Sedert die vroeë 2 000’s het Rusland haat teenoor Oekraïne aangewakker.”

ZAPORIZHZHIA
“In Zaporizhzhia skree die lugaanvalalarm elke dag vir talle ure. Dit klink verskriklik, maar volgens my geliefdes raak mense gewoond daaraan.”
Zaporizhzhia, wat voor die oorlog ’n bevolking van 750 000 gehad het, het ongeveer 500 000 mense ingeneem. Ongeveer 70% van die Zaporizhzhia-streek is beset.
Almal in die stad bly besig, bly werk. Sommige aanlyn, sommige fisiek. Hulle sê dit is nodig, want die land het belasting nodig om voort te gaan om die indringers te beveg. Byna almal is besig met vrywilligerswerk. Hulle help vlugtelinge, beseerdes, soldate en mekaar.
Nadat die Kakhovkadam opgeblaas is, het die Dnieperrivier – wat ongeveer een kilometer breed was – in ’n stroom verander.
“In plaas van om te sit en huil, maak mense die rivierbedding skoon, tel die rommel op wat al vir eeue daar ophoop. Mense probeer nou om in die oomblik te lewe, en maak grappe. Baie grappe verstaan ek nie – dit laat my huil. Hulle het talle grappe in die winter gemaak, toe daar geen krag of verhitting was nie. Nou is daar grappe oor die kernkragstasie, wat 50 km van my stad af geleë is. Ek is baie trots en bewonder hierdie mense se veerkragtigheid.”
“My vriendin se dogter het voor die oorlog gimnastiek gedoen. Hulle bly steeds in Zaporizhzhia. Sy doen nou gimnastiek aanlyn – in haar woonstel, in ’n bomskuiling. Daar was kompetisies in Lviv, wat ’n veiliger plek is, en sy het eerste plek gewen.”
Soms word alles te veel vir Olga, soos byvoorbeeld die Russiese missiel wat ’n pretpark naby residensiële geboue getref het. Ouers het met hul kinders daar gestap terwyl twee meisies liedjies gesing het. Hierdie meisies is nie meer met ons nie.
“Dit is moeilik as jy met jou ma praat en jy hoor die ontploffings. Dit is moeilik as jy oor ’n video-oproep met jou mense praat en jy sien ’n missiel oorvlieg en hoor dan ’n ontploffing en sien net rook. Ek lees die nuus in Russies om te probeer verstaan wat in hulle koppe aangaan en dit is moeilik om te lees hoe hulle goed opmaak en verdraai. Byvoorbeeld, in Zaporizhzhia is ’n residensiële multi-verdieping gebou verwoes, en in die Russiese nuus word geskryf dat ’n militêre basis vernietig is. Mense wat ek ken, het in die gebou gewoon.”
“Ek voel vir die kinders, hierdie oorlog het miljoene kinders se onskuld gesteel. Dit is onwaarskynlik dat die kinders ooit van die geestelike wonde sal genees. Diegene wat oorleef.”

HULP
“In die Oekraïne is daar ’n nuwe woord geskep: ‘Donatotherapy’. Dit is wanneer iemand geld stuur na waar hy/sy dink dit nodig is en dan voel die persoon goed. Op die oomblik is finansiële ondersteuning dít wat die mense die meeste nodig het.”
Olga probeer om bewusmaking oor haar land en die oorlog te skep.
“In Februarie het ons ’n uitstalling gehad ter herdenking van die oorlog. Die opbrengs is gestuur om ’n private gebou wat deur ’n bomaanval beskadig is, te herstel. Jy kan nie in ’n huis woon as daar nie vensters is nie en die dak stukkend is. Oekraïners gaan voort om te leef, te herstel, te herbou, met die noodsaaklike voorwaarde dat alles aantreklik en funksioneel moet wees.”

RAAD
“Dink krities oor wat jy lees en luister. Waardeer vrede en vryheid. Moenie alles wat jy in jou lewe het as vanselfsprekend aanvaar nie. Laat jou naaste altyd veilig en geliefd voel.”
Donderdag vier Oekraïne sy 32ste Onafhanklikheidsdag.