Windhoek Gim kraai koning by Hollard Interhoër

Annemarie du Toit
Vyf dae. Twee skole. Een trofee.
Die 2025 Hollard Interhoër tussen Windhoek Gimnasium en Windhoek Hoërskool het hierdie jaar alles gebied – talent, toewyding en ’n klimaks wat reguit uit ’n sportfliek kon kom.
Die week het verlede Dinsdag op ’n kultuurnoot afgeskop toe Windhoek Hoërskool die kuns- en kultuursegment met flair en styl gewen het. Met toneelspel, musiek en kreatiwiteit het WHS vroeg in die kompetisie hul stempel afgedruk.
Maar van Woensdag af het die fokus verskuif na die sportvelde, waar intensiteit die orde van die dag geword het. Elke span het geweet: Elke punt tel.
Die hokkie was een van die eerste groot botsings – die o.19-seuns se wedstryd het 2–2 gelykop geëindig ná ’n kragmeting waarin geen span toeggee het nie. Die o.19-meisies van Windhoek Gimnasium het egter hul staal gewys met ’n 2–0-sege.
Gimnasium se sokkerspan het voortgebou op daardie momentum en ’n noue 1–0-oorwinning oor WHS behaal. In basketbal was die kompetisie fel: Gimnasium se o.19 A-meisies het 23–21 gewen, maar WHS het teruggeslaan met ’n 62–52-oorwinning in die seunsafdeling.
In netbal het die Windhoek Gimnasium Black Diamonds hul teenstanders met 35–30 geklop – ’n spel wat netbal van die hoogste gehalte ten toon gestel het.
En toe kom Saterdag.
Almal het geweet die laaste wedstryd – die o.19-eerstespan-rugbykragmeting – sou die wenner van die toernooi bepaal. Die atmosfeer op die pawiljoene was elektries.
Tromme, gebede, gilletjies, trane.
En die spel het alles gehad: fisieke botsings, taktiese briljantheid en emosie.
Uiteindelik het Windhoek Gimnasium met 30–14 gewen en só hul plek bo-aan die punteleer verseker.
Kaptein Vincent Scholtz het ná afloop van die wedstryd gesê: “Ek is lost for words. Die seniors in ons span stap weg met ’n oorwinning in ons laaste jaar. Die juniors het opgedaag, hulle het step up, almal het vir mekaar gespeel. Ons het vir mekaar gesê jy speel vir die man langs jou in die trui.”
Ondanks WHS se kultuuroorwinning en sterk vertonings in verskeie sportsoorte, het Windhoek Gimnasium se konsekwente prestasies deur die week – en veral hul oorwinning in die rugby – hulle die titel van Interhoër-wenners besorg.
Die 2025 Hollard Interhoër was nie net ’n week van sport en spanne nie. Dit was ’n herinnering aan hoe jongmense opstaan, saamstaan en hul volle harte gee – vir hul skool, vir hul span en vir mekaar.