’n Indiese avontuur

Teyana Liebenberg Ek het onlangs die ongelooflike voorreg gehad om Indië toe te reis vir die troue van my pa se een vennoot se dogter – en dit was soos iets uit ’n Bollywood-film! Ons het vier dae in Mahbubnagar deurgebring waar die troue plaasgevind h
Ek het onlangs die ongelooflike voorreg gehad om Indië toe te reis vir die troue van my pa se een vennoot se dogter – en dit was soos iets uit ’n Bollywood-film!
Ons het vier dae in Mahbubnagar deurgebring waar die troue plaasgevind het – ’n ware fees van kleur, musiek en tradisie. Ek het selfs probeer om die tradisionele danse aan te leer (met ’n paar skewe “moves”, maar dit was heerlik pret!). Die kos was ook ’n avontuur op sy eie – van pittige biryani tot panipuri – elke happie het ’n nuwe geur en ervaring gebring.
Die Indiese troutradisies was fassinerend – van die Mehndi-seremonie, waar die bruid se hande met hennapatrone versier word, tot die vuurseremonie, waar die bruid en bruidegom se nuwe paadjie simbolies begin word.
Maar die avontuur het nie daar geëindig nie! Daarna het ons Chennai besoek – ’n tropiese stad vol palmbome, warm winde en pragtige tempels. Vervolgens het ons na Chandigarh gereis – ’n skoon en moderne stad. Hier het ons ongelooflike plekke verken en selfs die Swiss Garnier-fabriek besoek. Dit was baie interessant om te sien hoe medisyne vervaardig word.
Toe het ons noordwaarts gegaan tot in Manali in die Himalaja-gebergte! Sneeu, ski, zipline, sneeubalgevegte – en asemrowende berguitsigte – iets wat ek nooit sal vergeet nie.
Wat hierdie reis vir my ekstra spesiaal gemaak het, was die mense. So vriendelik, oulik en opreg gasvry. Ek het nuwe vriende gemaak, ek het soveel geleer, gelag en geleef! Hierdie reis het my hart gevul met herinneringe.
Ek het elke oomblik geniet en sal hierdie reis vir altyd in my hart hou.
Indië, jy het my hart gesteel!