In die boorde van ’n granaatboer

Psalm 128:2 Die vrug van jou arbeid sal jy geniet, gelukkig en voorspoedig sal jy wees.
Yolanda Nel
Windhoek • Yolanda Nel



In die suide van Namibië is 17 000 bome vier jaar gelede geplant en as die vrugte daarvan oopgebreek word, word jy beloon met die soet pêrels van die granaat.

Maar hoe het die broers Marnus en Rijno Blankestijn daarop besluit om granate te plant?

“Hoofsaaklik vir waterbesparing,” vertel Marnus se vrou, Nerine, oor Avante Pomegranate. Sy verduidelik dat hulle op die Hardap-besproeiingskema boer en van die dam se water afhanklik is.

“Die droogte van die afgelope sewe jaar het tot gevolg gehad dat mielies en koring vir boere net te duur geword het, veral omdat ons teen natuurlike elemente baklei,” sê sy. Die peste raak meer en te duur om te bespuit en selfs dán is daar skade.

Die broers het dus besluit om hul strategie te verander om te oorleef. Al wat hulle nodig gehad het, was ’n gewas wat taamlik min water gebruik, bestand is teen die meeste insekte wat hier voorkom, wat die uiterse hitte kan weerstaan en wat ook hoog in aanvraag is. “Granate was die antwoord,” sê sy.

Tog is die insetkoste die eerste 5 tot 10 jaar hoog, “maar daarna pluk jy letterlik die vrugte”.

Opbrengs

Sedert die bome in November 2015 geplant is, lewer die boere vars granate, 100% granaatsap en ’n granaatstroop.

Avante-produkte is beskikbaar by die Charney Spar op Mariental en Fruit & Veg-takke oral in Namibië.

Avante is ook gereeld by markte te sien waar die produkte aan die publiek verkoop word.

Nerine vertel dat ’n granaatboerdery baie arbeidsintensief is, wat die kostes van die vrug verhoog. “Nie net moet die bome gesond en skoongehou word nie, maar die vrugte moet gepluk en verpak word,” sê sy. Dan moet vervoerkostes ook nog ingereken nie. “Maar,” sê sy trots, “ons lewer ’n kwaliteitproduk van uitvoergehalte aan ons verskaffers.”

Hoewel die bome nog jonk is, is die span by Avante vol hoop dat hulle in voldrag sowat 20 ton per hektaar kan lewer. “Afhangend van hoe goed jy boer, natuurlik!” spot sy.

Nerine erken die droogte het wel ’n effek op die granate, al is hulle redelik weerstandig. “Dit raak veral die pitkleur. Die pitte wil nie kleur nie, as gevolg van die dag- en nagtemperature wat nie werklik van mekaar verskil nie. Granate soek kouer temperature in die nag om daardie mooi, bloedrooi pitkleur te kry. Ons seisoen is ook effens later. Gewoonlik begin ons al vroeg in Februarie oes, maar ons kon hierdie jaar eers in Maart begin.”

Die vrug is een van die toptien gewildste en mees gesonde vrugte en is juis in die buiteland in aanvraag. Dit is daarom dat die broers op die oomblik alles in orde kry om te begin uitvoer.

BLOKKIE

Goeie Huishouding gee raad oor hoe om die vrug maklik te ontpit:

1. Gebruik ’n skerp mes en sny die bokant van die granaat af. Maak seker dat jy nie te veel afsny nie, want jy wil nie van die pitjies verloor nie.

2. Maak vlak, vertikale snitte van bo tot onder reg om die granaat. Sorg dat jy nie die pitte raaksny nie, want dit kan ’n sappige gemors afgee.

3. Gebruik jou vingers om die wiggies los te wikkel. As jy die verskillende segmente al langs die snitte oopbreek, behoort die granaat taamlik maklik “oop te maak”.

4. Verwyder die albedo (die middelste wit gedeelte van die granaat) en verwyder enige pitjies wat daaraan vassit.

5. Draai die granaat om sodat die binnekant na onder wys, en hou dit bo-oor ’n bak of kastrol.

6. Gebruik ‘n groot lepel en tik die granaat totdat al die pitjies in die kastrol geval het.

BLOKKIE:

Gesondheidsvoordele

Granate is ’n uitstekende bron van dieetvesel sowel as vitamiene C, K en verskeie B-vitamiene. Ander voedingstowwe sluit in yster, magnesium, fosfor, kalium, folaat, mangaan, selenium en sink. Die vrugte is ook ’n goeie bron van omega-6-vetsure en het ook antivirale, antitumor- en anti-inflammatoriese eienskappe.

Die vrugte kan ook gebruik word vir:

• Hartgesond: Dit help om bloedvloei na die hart te verbeter en verstopte bloedvate skoon te maak. Dit bied anti-atherogene voordele en verminder plaakvorming, danksy die ryk polifenol inhoud.

• Reguleer bloeddruk: Die hoë vlakke antioksidante, vitamien C en polifenole stimuleer die produksie van stikstofoksied, wat bloedvloei verbeter en are oop hou. Dit verminder selfs bestaande plaakformasies in die are, wat weer die risiko van beroertes en hartaanvalle verminder.

• Verlig gewrig en artritispyn: Om verligting van osteoartritis, rumatoïede artritis en algehele gewrigspyn te kry, sluit granaat in jou dieet in. Granaat het anti-inflammatoriese sowel as anti-oksidant eienskappe wat help om ensieme te blokkeer wat bekend is om gewrigte te beskadig en pyn en styfheid te veroorsaak.

• Beveg die simptome van bloedarmoede: Die yster in granaat verhoog die aantal rooibloedselle. Dit lei tot ’n toename in hemoglobien in die bloed en bevorder gesonde bloedvloei. Plus, die hoë hoeveelheid vitamien C in die granaat help die liggaam in die absorpsie van yster. Granaatsaadekstrak help om die simptome van bloedarmoede te verminder, insluitende moegheid, ‘n dowwe gevoel en swakheid.

• Nog ’n voordeel is beskerming teen kanker. Granate oefen antitumor-effekte op verskillende soorte kankerselle uit, veral prostaat-, bors-, long- en velkanker.

• Granaat kan ook geheue verbeter en Alzheimers voorkom en behandel. Die polifenole in granate word beskou as positief-kognitief voordelig. Daaglikse inname van granaatsap verbeter geheue en funksionele breinaktiwiteit in middeljarige en ouer volwassenes met ligte geheueprobleme.

• Granaat bied anti-verouderingsvoordele vir jou vel om dit soepel, glad en jonger te laat lyk. As gevolg van die vitamien C-inhoud, bevorder die vrug kollageenvorming, wat velverlies en rimpeling vertraag.

• Nog ’n gesondheidsvoordeel is die beskermende antiplaak-effek wat algemene mondhigiëne ondersteun. Granate bevat polifenoliese flavonoïede met antibakteriese aktiwiteit wat voordelig is vir mondgesondheid. Deur jou mond te spoel met granaatsap kan jy plaakvorming met tot 32 persent verminder.

• Hierdie vrug is selfs voordelig vir mense met diabetes of ander metaboliese afwykings. Dit kan insuliensensitiwiteit verbeter en die risiko verminder van gesondheidskomplikasies wat met diabetes verband hou.

• Granate is uiters voordelig vir vroue wat swanger wil raak, aangesien dit vrugbaarheid bevorder. Dit verhoog ook die bloedvloei na die uterus en verdik die baarmoedervoering, wat die risiko van miskraam verminder.

• Granaatekstrak kan gebruik word as ’n aanvulling om langlewendheid, vrugbaarheid en groei te verbeter. - Hannes de Beer (kruiekenner)