Reho soek inwoners aan stuur

Yolanda Nel
Rehoboth • Yolanda Nel



Die soektog duur voort vir 'n geskikte kandidaat om die pos van uitvoerende hoof van die Rehoboth dorpsraad te vul. Intussen is inwoners hoopvol dat iemand van die dorp dié pos binnekort gaan beklee.

Die Facebook-blad Reho Observe, het onlangs op die groep gevra hoekom die dorpsraad die laaste paar uitvoerende hoofde van elders aangestel het om hulle dorp te bestuur. “Hulle kom in sonder enige benul van Rehoboth se dorpsbelange, agtergrond en geskiedenis en het geen meegevoel vir die ouergarde van die dorp nie,” lees een inskrywing.

Verskeie ander het ook daarop kommentaar gelewer en dit laat blyk hulle is moeg daarvoor dat dié pos nie aan 'n plaaslike inwoner gaan nie.“Is daar regtig geen Rehobother wat kwalifiseer om die dorp self onder 'n ystervuis te stuur nie?” wil een skrywer weet.

Volgens die groep is daar een party wat besluit hoe, wie en wat in die dorp bevorder word. Maar, “Sover is dit defnitief nie in Rehobothers se guns nie”.

Daarop het inwoners geantwoord dat die dorp oor baie geleerde mense beskik wat in ander dorpe hul sout werd is, “maar in Rehoboth is hulle 'n nul”.

Vir menigte kan 'n persoon nie in 'n bestuursposisie sit indien hulle geen agtergrondkennis het oor 'n saak nie.

“As julle vir Rehoboth wil sien vorentoe beweeg, gebruik die dorp se eie suksesvolle besigheidsmense wat al jare besighede bedryf en

julle sal sien hoe word die dorp in 'n oogwink hand omkeer gedraai,” sê een inwoner.

'n Ander se oplossing is om die Rehoboth Baster Gemeente (RBG) te registreer vir die verkiesing. “Alle Basters word dan gevra om te stem en sodoende politieke partye uit die dorpsraad te kry,” sê hy.

Maar die dorpsraad se soeke eindig nie by geskikte kandidate om die dorp reg te ruk nie.

Volgens mediaberigte vroeër die week is hulle opsoek na 'n reddingsboei weens skuld van sowat N$120 miljoen. Van dié bedrag is sowat N$99.6 miljoen aan NamPower verskuldig en die res aan NamWater. Dit terwyl inwoners sowat N$150 miljoen in uitstaande tariewe en belasting aan die raad skuld.