Biochar-aanleg verdien ‘groen geld’

Eerste ope-dag by Otjiwarongo
PyroNam huur 'n stuk grond van 'n boer vir sy aanlegte, wat hulle self bestuur, terwyl dit die biomassa van ongeveer 10 000 ha grond benodig om te kan funksioneer.
Elvira Hattingh
PyroNam het die afgelope naweek twee opedae naby Otjiwarongo aangebied vir die bekendstelling van sy eerste biochar-aanleg, waar biomassa of indringerbos in biochar omskep word om terug in die grond te ploeg.
Callie Steenkamp, die projekbestuurder, het verduidelik dat die aanleg op die plaas Waltershagen biochar teruggee aan boere, om dit dan in hul grond te integreer. Die hele proses word noukeurig gedokumenteer en jaarliks geoudit, wat PyroNam in staat stel om koolstofsink-sertifikate te genereer – dit word ook op dié manier gefinansier.
Groot oorsese maatskappy koop die sertifikate op ’n opemarkstelsel om “groener” te kan wees. Terselfdertyd bestry Namibië sy probleem met verbossing op ’n omgewingsvriendelike manier, bevorder biodiversiteit en verryk die grond.
Steenkamp het verduidelik die doel is om Namibië se landskappe te herstel met behulp van ?’n winsgewende en omgewingsvriendelike benutting van biomassa.
Indringerbos of biomassa word in biochar omskep, wat op die beurt gebruik word om grond te herstel of te verbeter en koolstof terug in die grond te integreer. Daarbenewens word byprodukte gegenereer, wat insluit teer wat aan boere gegee word om teerpale van te maak, asook die rumateriaal wat ’n ander maatskappy benut om houtasyn van te maak.
GESERTIFISEER
Selfs die metaangas word in die aanleg opgevang en dit voldoen aan Europese standaarde vir die vrystelling van gasse en rook.
Pyronam Namibia is die eerste biochar-produsent in Afrika om sertifikasie van die Europese Biochar Sertifiseringsraad (EBC) te verkry, asook die Forest Stewardship Council (FSC).
“Dit was nie ’n maklike proses nie,” het Steenkamp gesê.
Hy sê tans word daar aan vyf aanlegte in Namibië gewerk – van die aanlegte is in die omgewing van Waterberg geleë. PyroNam huur ’n stuk grond van ’n boer vir sy aanlegte, wat hulle self bestuur, terwyl dit die biomassa van ongeveer 10 000 ha grond benodig om te kan funksioneer.
FINANSIERING
Die besturende direkteur van PyroNam, Henrike Geldmacher, het vantevore verduidelik die projek word gefinansier deur koolstofsink-sertifikate (C-sink-sertifikate) wat hulle met dié klimaatvriendelike projek gaan bekom en in die buiteland verkoop. Koolstofsink is enigiets wat meer koolstof uit die atmosfeer absorbeer as wat dit vrystel – in hierdie geval biohoutskool wat deur middel van die PyCCS-proses vervaardig word.
Sy het verder gesê PyroNam vergoed plaaseienaars per kilogram biomassa wat gebruik word.
“PyroNam rig die aanleg en arbeidershuise op en die projek word deur ons bestuur. Die biohoutskool wat vervaardig word, is die plaaseienaar se eiendom.”
Die proses word geoudit om seker te maak daar word aan al die standaarde en vereistes voldoen.
Vir meer inligting hieroor kan belangstellendes PyroNam se webblad by www.pyronam.com besoek.
[email protected]