Gaan dit reën of nie?

Weerkenners se vooruitsigte verskil
Terwyl die Namibiese meteorologiese dienste sê dat minstens 'n gemiddelde reënseisoen verwag kan word, skep heersende weertoestande onsekerheid oor die vooruitskouing.
Elvira Hattingh
Die Namibiese meteorologiese dienste voorsien ‘n gemiddelde reënjaar oor die algemeen vir Namibië, ten spyte daarvan dat El Niño-toestande posgevat het en die Indiese Oseaan warmer as normaal is.
Dit aldus die seisoenale weervooruitskouing wat Maandag, 9 Oktober uitgereik is. Hiervolgens word ‘n gemiddelde tot bo-gemiddelde reënjaar vir die oorgrote dele van die land vanaf Oktober tot Desember verwag, terwyl normale tot ondernormale neerslae in die suide van die land verwag word.
“Die Indiese Oseaan-dipool (IOD) is tans in ‘n positiewe fase. Daar word voorspel dat dit neutraal sal raak teen die einde van die 2023 – ’24 reënseisoen,” het die ministerie van werke en vervoer se Jonas Sheelongo, adjunk-uitvoerende direkteur vir vervoer gesê.
Die meteorologiese dienste val onder dié ministerie.
Sheelongo sê dieselfde geld as dit kom by voorspellings tot en met Februarie volgende jaar.
INTERNASIONAAL
Sommige weerkenners meen egter dat El Niño-weerstoestande, tesame met ‘n warmer Indiese Oseaan, dikwels ‘n negatiewe invloed op Namibië se reënseisoen uitoefen.
Amerika se Nasionale Oseaniese en Atmosferiese Administrasie (NOAA) het vroeër vandeesmaand gesê dat El Niño na verwagting sy greep op wêreldwye weerpatrone dwarsdeur die Suidelike Halfrond se somer sal behou, met ‘n 95% kans dat dit vanaf Januarie tot Maart sal oorheers.
Daarbenewens het die kanse daarop dat ‘n sterk El Niño tydens die reëseisoen sal voorkom, onlangs met sowat 71% verhoog.
NOAA se uitkykstatus van 14 Oktober stem ooreen met die van die Australiese Buro vir Meteorologie, wat verklaar dat ‘n El Niño asook ‘n positiewe IOD onderweg is.
Die Australiese Buro stem saam dat aanwysers van die oseane El Niño-toestande handhaaf, terwyl hul weermodelle ook aandui dat verdere verhitting van die sentrale tot oostelike Stille Oseaan ‘n moontlikheid is.
Terwyl die buro tot dusver gesê het atmosferiese toestande het nog nie met oseane gekoppel om El Niño-toestande te versterk nie, het dit nou verander. Die buro sê daar is nou tekens dat die atmosfeer reageer op die warmer seeoppervlaktemperature in die Stille Oseaan.
NOAA het gesê opsommend kan verwag word dat toestande in die oseaan en atmosfeer mekaar ondersteun en ooreenstem met El Niño-toestande, wat ‘n aanduiding is dat die weertoestande tydens die Suidelike Halfrond se somer van 2023 – ’24 kan heers.
ONDERGEMIDDELDE JAAR
Dit kom terwyl Namibië tydens die vorige reënseisoen oor die algemeen swak verspreide of ondergemiddelde neerslae gehad het.
Die weidingskundige, dr. Cornelis van der Waal, het teen die einde van die afgelope reënseisoen gesê satellietdata toon dat plantegroei oor die meeste dele van die land gedurende Maart 2023 agteruitgang getoon het, met gebiede soos die Hardap-,||Kharas-, suidelike Omaheke-, Oshana-, die groter Erongo- en groot dele van die Kunene- asook die Omusatistreek, waar dit ver ondergemiddeld was.