Outjo kry ’n opleidingsentrum

Landboukursusse ook aangebied
Shadonai sal nou geakkrediteerde kwalifikasies in onder meer gewasproduksie, lewendehawebestuur, hoenderboerdery, akwaponika, gesondheid en veiligheid, noodhulp en fiksheid bied.
Elvira Hattingh
Shadonai Training Academy, wat tot dusver geakkrediteerde opleiding in die skoonheidsektor in Windhoek gebied het, verskuif nou na Outjo terwyl hy terselfdertyd uitbrei om onder meer verskeie landbou-kwalifikasies in te sluit.
Johan Potgieter, ’n bekende konynboer by Karibib, is een van Shadonai se direkteure en sal self ook opleding in konynboerdery by die sentrum aanbied. ’n Kwalifikasie in konynboerdery sal byvoorbeeld oor ’n tydperk van ses maande verwerf kan word, het hy gesê.
Hy het tydens die afgelope Outjo Wildsfees gesê die sentrum sal nou geakkrediteerde kwalifikasies in onder meer gewasproduksie, lewendehawebestuur, hoenderboerdery, akwaponika, en kursusse in gesondheid en veiligheid, noodhulp en fiksheid bied.
“Die meeste van die vakke beslaan uit sowat 70% praktiese werk en 30% teorie,” het hy bygevoeg.
Shadonai gaan ook nog voort met opleiding in skoonheidsrigtings, terwyl daar ook ’n Christelike oorbruggingsjaar aangebied sal word vir diegene wat matriek voltooi het en nog nie seker is wat hulle wil studeer nie. Tydens dié jaar sal hulle blootgestel word aan die verskeie vakrigtings wat Shadonai aanbied, terwyl hulle ook Christelike berading sal ontvang wat hulle kan help om ’n loopbaankeuse te maak.
“Dit is eers wanneer ek myself ken en weet wie ek is, dat ek weet wat ek met my lewe wil doen,” het Potgieter verduidelik.
ERVARING
Shadonai het ’n stalletjie by die Wildsfees gehad om die publiek op hoogte te bring van die nuwe verwikkeling. Volgens Potgieter sal al die opleiding in die sentrum aangebied word deur mense wat in die praktyk werksaam is en spesifiek Namibiese toestande ken – ’n gebied waar teorietiese kennis dikwels tekort skiet.
Shadonai spog met meer as 20 jaar se ervaring in die plaaslike opleidingsektor. Belangstellendes sal uit sowat 200 nasionale kwalifikasies kan kies, terwyl daar ook 37 internasionale vaklyne en meestersklasse of vaardigheidsklasse aangebied sal word.
Potgieter het gesê die sentrum sal opleding aanbied wat oor verskeie jare strek sowel as korter kursusse vir werkende persone wat binne korter tydperke hul vaardighede wil verskerp of iets nuuts wil leer.
Hy sê die plattelandse dorp het hulle met ope arms verwelkom, met Outjo se owerhede wat die ou hospitaal aan hulle beskikbaar gestel het. Dit is intussen omskep in ’n leersentrum wat tans 30 klaskamers het.
Die instelling het met die gemeenskap hande gevat om praktiese vaardighede aan die studente oor te dra. “Dit maak my opgewonde – hierdie is nie net ’n inisiatief deur die private sektor nie. Ook die openbare sektor het hierby ingekoop en gehelp om dit te verwesenlik,” het hy gesê.
Daarbenewens is daar ook ’n stuk grond waarop studente praktiese opleiding sal ontvang, terwyl ’n hotel as die opleidingsentrum se “koshuis” sal dien.
- [email protected]