Só kan beesboere vir die toekoms beplan

Winste die fokus
Beesboere kan op die toekoms voorberei deur onder meer genetika te benut wat winste sal lewer, sê 'n kenner.
Elvira Hattingh
Beplan vir jou toekoms met behulp van ‘n bestekopname van die status quo, gepaste doelwitte, die regte genetika en ’n fokus op winste.
Só sê Kobus Bester, voorsitter van die Simmentaler/Simbra-telersvereniging van Suider-Afrika. Hy was eerste aan die woord tydens die Kamab Simbra-beesinligtingsdag op Saterdag 12 Augustus. Die geleentheid is op die plaas Neu Otjisauono aangebied, wat aan Diethelm Metzger en sy familie behoort.
Bester het tydens die geleentheid gesê beesboere kan op die toekoms voorberei deur onder meer genetika te benut wat winste sal lewer. “Goeie genetika kan met behulp van indekswaardes geïdentifisieer word.
“Daarbenewens is die bestokkingsyfer van jou plaas jou sterkste ekonomiese dryfkrag. Dit is ook belangrik om jou mees winsgewende diere te identifiseer met behulp van voeromsettoetse.
“Daar is ’n skakel tussen beeste se prestasie in die voerkraal asook sy prestasie in die veld. Om dié rede kan ons groot vertroue in voeromsettoetse plaas,” het Bester gesê.

BESTEKOPNAME
Bester sê boere moet weet hoeveel kilogramme vleis per hektaar hulle produseer - of hoeveel kilogramme volgens die hoeveelheid reën wat hulle ontvang – sodat hulle weet wat hulle huidige posisie is en watter doelwitte hulle moet behaal om te kan voorberei vir die toekoms.
“Jy moet weet wat jou wins is. Dit help nie om ’n groot omset te hê maar teen ’n verlies te produseer nie. Dit is belangrik dat jy op opbrengste op jou belegging fokus.”
Hy sê boere moet beplan vir onvoorsiene gebeurtenisse soos droogtes en siektes, maar ook doelwitte stel en vir risiko’s voorberei.

DIE ONVOORSIENE
“Ongelukkig, in Namibië, moet jy op die volgende droogte voorberei. Ek besoek Namibië reeds vir 25 jaar en ek merk ’n vermindering in beesgetalle op. Ek vermoed dit is weens ’n gebrek aan beplanning,” het hy gesê. “Die onvoorsiene sál gebeur.”
Hy meen Namibiese boere wat vorige droogtes die beste oorleef het, was dié wat bereid was om boskos te maak.
Hy sê boere benodig ook die korrekte inligting om te kan beplan en sal algaande ál meer op volhoubare praktyke moet fokus. Boere moet tegnologie benut, op naspeurbaarheid let, vertroud wees met die omgewing en markte waarin hulle werk en diversifiseer vir wanneer teenspoed hulle tref – soos byvoorbeeld om op jag of toerisme te fokus.
Bester sê boere behoort hulle kennis voortdurend uit te brei, op die gesondheid van grond te fokus en hul vinger op die pols van hulle verbruikers te hou om te weet wat die mark wil hê. “Produkte van goeie gehalte is nie-onderhandelbaar – ons kan nooit laat slaplê as dit by gehalte kom nie,” het hy bygevoeg.
[email protected]