Tuinbouprojek red veeboere van Koës

Labuschagne is mentor
Die doelwit van die KAT-projek is om selfonderhoudend te wees en bekostigbare groente en vrugte aan die gemeenskap te verskaf.
Francoise Steynberg
Vyf veeboere van Koës wat weens die droogte uitgeboer het, voel nou hulle boer vooruit en maak ’n verskil in die gemeenskap.
Die projekleier van Koës Agricultural Trading (KAT), Johannes Janser, en vier veeboere het vier jaar gelede nog op dorpsgronde geboer, maar het later weens die droogte en veediewe nie meer diere oorgehad nie.
Janser, Hendrik en Anna Witbooi en Daniël Gravie het met hul hande in die hare gesit, maar ’n barmhartige Samaritaan het tot hul redding gekom.
“Willem en Corlia Labuschagne het vir ons ’n lappie grond in die dorp beskikbaar gestel om met ’n tuinbouprojek te begin. Willem is ons mentor en projekkoördineerder,” het Janser aan Agri Monitor vertel.
Willem is sedert Julie 2023 ’n lid van die Nasionale Raad nadat hy in die tussenverkiesing as raadslid van die Keetmanshoop- landelike kiesafdeling en ||Kharas-streekraad se bestuurskomitee verkies is.
“Dit was aanvanklik ’n gesukkel om van veeboerdery na tuinbou oor te skakel. Heel eerste het ons beet, wortels en uie geplant en gesien die grond is vrugbaar,” vertel Janser.
“Koës se water is goed en water vir die besproeiing van die gewasse onder tonnels word uit ’n boorgat voorsien.”
Janser is ook die ondervoorsitter van die Koës-nedersettingsraad en sê ná drie jaar spog die projek met verskeie gewasse, soos waatlemoen, spanspek, pampoen, botterskorsies, vlapampoentjies, eiervrug, wit en rooi uie, murgpampoentjies en groen- en rooirissies.
“Die aartappelplante is ook in en ons het ook ’n hoenderboerdery begin,” wys hy trots na die hoenderhokke.
Janser sê die doelwit van die projek is om selfonderhoudend te wees en bekostigbare groente en vrugte aan die gemeenskap te verskaf.
“Ons groente is van die goedkoopste en ons probeer onder die markprys te bly, of tien tot 15 persent goedkoper.”
Volgens hom is KAT se gemiddelde prys N$15 per kilogram.
Die projek het so gegroei dat hulle mark na Aroab en Windhoek uitgebrei het.
“Die plaaslike inwoners, besighede en boere in die omgewing ondersteun ons geweldig,” sê Janser.
Die oorskot wat nie verkoop word nie, word boonop aan pensioenarisse, skole, die polisie en gevangenes geskenk.
Hans Louw, Eugene Prins en Deslee Nel het intussen by KAT aangesluit.
“Ons probeer om jongmense te inspireer,” sê Janser.
Koës het nog steeds groot uitdagings met die droogte, veediefstal en diefstal.
“Diewe het al ons tuin geplunder en klomp groente en vrugte gesteel. Die tonnel is ook beskadig, met die diewe wat dit oopgesny het om toegang te verkry.”
Janser sê daar is steeds baie ruimte vir hul tuinboumetodes om te verbeter en hulle moet nog meer kennis opdoen en kursusse volg, “maar ons voel ons boer vooruit”.
[email protected]