Wêrelddag vir Vroueveldwagters gevier

Elvira Hattingh
Ter viering van Wêrelddag vir Vroueveldwagters het vroulike veldwagters op Vrydag 23 Junie in die nuwe Nyae Nyae-bewaringsgebied in die noordooste van Namibië byeengekom om kennis, ervarings en vaardighede te bespreek.
Werknemers asook die bestuur van die Save The Rhino Trust (SRT) Namibia en tradisionele leiers uit Tsumkwe het ook by hulle aangesluit.
Intussen het die fonds ook aangekondig dat hul Reading with Rhinos-program na Nyae Nyae sal uitbrei met die hulp van hul onderrigvennoot, Mondesa Youth Opportunities.
Mondesa het intensiewe opleiding verskaf aan 12 onderwysers van Tsumkwe, wat binne die bewaringsgebied geleë is. Die onderwysers het tussen 19 en 21 Junie opleiding ontvang oor die implementering van die program en ook basiese opleiding in rekenaarvaardighede – alles met die oogmerk om die leerproses vir kinders by hul onderskeie skole te vergemaklik.
Die SRT sê die program is verlede jaar by drie skole geïmplementeer en sal voorts by sewe skole in die Tsumkwe-gebied geïmplementeer word met behulp van die nuutopgeleide onderwysers.