Johnson se prestasie in Jakarta ‘ongeëwenaard’

Gholf
Andrew Poolman
Die gholfspeler Kyle Johnson het selfs homself verstom met sy puik eindposisie (gesamentlik vyfde) vandeesweek in die junior wêreldkampioenskap in Indonesië se hoofstad Jakarta.
Die belowende 17-jarige van Walvisbaai-gholfklub het vanaf die eerste dag – toe hy in die gesamentlike tweede posisie was met ‘n drie-onder-baansyfer 69 – gewys hy is ‘n ernstige mededinger.
Johnson se tweede en derde rondtes van 72 en 70 het hom uiteindelik met ‘n total van 211 laat eindig – in die gesamentlike vyfde posisie en vyf houe onder die baansyfer.
Uit Jakarta het die tienerjarige Johnson gister gesê hy het voor die toernooi nie gereken hy staan ‘n realistiese kans om in die toptien óf die topvyf te eindig nie.
“Om in die topvyfvyf hier te eindig, is vir my verstommend en beteken vir my baie. Ek was ná die eerste rondte werklik geskok om met drie houe onder die baansyfer te wees.
“In die tweede rondte het ek nogal gesukkel, maar op die laaste putjie het ek met ‘n goeie sethou geslaag om wel gelyk aan baansyfer af te sluit.
“Ek het in die derde rondte meer aanvallend na elke pen probeer speel om dalk die voorlopers te vang. Hoewel ek dit nie reggekry het nie, kan ek baie lesse uit hierdie toernooi saamneem. Die spelers hier se vlak was werklik uitmuntend.
Die jong Walvisbaaier, wat die vorige naweek die Sentraal Ope (geborg deur Momentum en Debmarine) by die Windhoek Buiteklub op die derde uitspeelputjie teen Todd Parker gewen het nadat hulle gelyk boaan die voorloperbord klaargemaak het, het sy dank uitgespreek teenoor die rolspelers wat hom ondersteun het.
“Today Gurirab, president van die Namibiese Amateur Gholfunie, het gehelp om hierdie deelname finansieel moontlik help maak. Shane Westerdale en Darryl van Walvisbaai-gholfklub het ook baie gedoen om my loopbaan tot op hierdie punt te kry. NamKids Junior Golf het ook die laaste paar maande baie bygedra.
“My boodskap aan jong gholfspelers is om om nooit moed op te gee as jy drome najaag nie, en om altyd op te staan en weer die stryd aan te pak. Dis nooit verby totdat jy wen nie. Vir my is hierdie ook nie die eindstreep nie; ek sal baie graag wil terugkom en wen.”
In sy reaksie het Gurirab gister gesê die Afrika Streek 5-toernooi wat ‘n paar weke tevore in Gaborone gehou is, het as 'n belangrike geleentheid ter voorbereiding vir Kyle gedien voor die junior wêreldkampioenskap in Jakarta.
“Kyle se gholfprestasie bly ongeëwenaard – 'n ware wonderkind en 'n bron van nasionale trots.
“Sy ontluiking in die sport het die aandag van vele getrek, veral die jonger geslag wat na hom opkyk as een van ons voorste junior gholfspelers.
“Sy uitstekende prestasie in Indonesië is 'n bewys van die gehalte en potensiaal van die talent wat Namibië steeds koester. Baie van hierdie sukses kan toegeskryf word aan die hoëprestasieprogram, wat 'n belangrike rol speel in sy ontwikkeling op en van die baan af.
“Ons betuig ons hartlike waardering aan al die rolspelers wat tot Kyle se reis bygedra het – sy ondersteunende ouers; die HPP-programdirekteur Eden Thompson; die Junior Gholffederasie se president Pieter Fox; die NAGU-uitvoerende span en die hele Namibiese gholffamilie. Julle gesamentlike pogings maak werklik 'n verskil in Kyle se spel en sy lewe.”