Ons kom praat oor spogstadion by kus – dok Rudie

Krieket
Andrew Poolman
Die FNB Namibië Krieketstadion (NCG) is Saterdag amptelik deur die land se adjunkpresident, me. Lucia Witbooi, ingewy voor die dramatiese internasionale T20-wedstryd waarin die FNB Eagles ‘n sensasionale oorwinning met die laaste bal teen Suid-Afrika se Proteas
Witbooi het in haar toespraak haar gelukwensing en respek uitgespreek teenoor die rolspelers wat die verrysing van die blink nuwe stadion binne skaars 18 maande help moontlik maak het.
“Hierdie stadion staan as ‘n monument van bewys dat sport in Namibië met die regte vennootskappe, doeltreffende leierskap en nasionale ondersteuning ‘n vlak van uitmuntendheid kan behaal.”

Visie 2030 aangekondig
Die president van Krieket Namibië, dr. Rudie van Vuuren, het in sy toespraak gesê dis ‘n stadion vir Namibiërs, gebou deur Namibiërs.
“Ons vier vandag nie net ‘n gebou nie, maar ‘n seëning.
“Louis Burger (bestekopnemer en gewese nasionale krieketkaptein) vertel my die stadion is N$95 miljoen werd en dat ons 470 000 bakstene gebruik het.
“En ons is nog nie klaar nie – hierdie stadion verteenwoordig Visie 2027 en is gereed vir die mede-aanbieding van die ICC o.19 Wêreldbeker in 2026, asook die ICC Wêreldbeker vir mans-eendagkrieket in 2027.
“Hierdie stadion sal ontwikkel word in ‘n kommersiële middelpunt vir internasionale sport – ‘n ruimte wat die wêreld hierheen nooi, en waar Namibië se uitmuntendheid op elke vlak uitgestal word.
“Ons kyk verder as 2027. Ons kyk na Visie 2030 – ‘n nuwe stadion aan die sentrale kus van Namibië. Aan die uitvoerende hoofde van Swakopmund en Walvisbaai ... neem kennis, ons sal julle dorpe binnekort kom besoek.
“Die volgende visie is besig om oor Duin 7 te verrys.
“Die FNB NCG staan as ‘n getuienis van wat moontlik is wanneer passie en ‘n doelwit ontmoet. Dit wys dat klein lande groot mag droom.
“Aan elke Namibiër: Welkom tuis! Hierdie is julle veld. Hierdie is julle nalatenskap.
“The Eagle has landed, in its home – the FNB NCG.”
Van Vuuren het sy KN-raadslede Henno Prinsloo, Helga Volschenk, Trevor Britten, beskermheer Francois Erasmus, Daneel van der Walt en Polly Negongo asook die uitvoerende hoof Johan Müller uitgesonder vir hul vasbyt en wysheid vir die duur van die projek.
Die krieketbaas het ook die Windhoek munisipaliteit vir hul steun en vennootskap bedank vir die skepping van ‘n stadion van nasionale trots.

Hoë ICC-gas vol lof
William Glenwright, die ICC se hoof van wêreldwye ontwikkeling, was ‘n eregas by die inwyding en het in sy toespraak gesê die opening van die stadion maak die aankondiging dat Namibië die reg verwerf het om met trots tussen die groot krieketlande te staan.
“Namibië het oor jare wêreldklas standaarde opgebou. Deur uitstaande leierskap, bekwame administrasie en ‘n onwrikbare verbintenis om krieket te laat groei, het Namibië die maatstaf vir krieketnasies oor die wêreld heen gestel.
“Namibië het die reg verwerf om by Wêreldbekertoernooie mee te ding,omdat sy spanne dit reggekry het waarvan almal droom – om die heel bestes die stryd aan te sê en te wen.
“Oorwinnings teen die spanne van volwaardige ICC-lidlande, verskynings op die grootste verhoog in die sport – dit gebeur nie per ongeluk nie. Dit is die gevolg van jare se dissipline, geloof en visie.
“En nou het Namibië ook die reg verwerf om ‘n aanbieder van Wêreldbekertoernooie te wees – omdat die land bewys het dat hy op die wêreldverhoog kan meeding.
“Deur professionele administrasie, belegging in infrastruktuur en die passie van sy mense het Namibië gewys hy hoort in die hartjie van internasionale krieket.
“Vir ons almal by die ICC verteenwoordig Namibië die heel beste van wat met vennootskappe bereik kan word. Die ICC het met trots in Namibië belê – nie op grond van wat die land eendag kan wees nie, maar op grond van wat dit reeds is – ‘n nasie wat voortdurend ambisie in prestasie kan afrond.
“Ons staan vandag in hierdie pragstadion wat van Namibië se reis tot hier, asook na die toekoms getuig.
“Namens die ICC dra ek my gelukwensing oor aan Krieket Namibië se president Rudie van Vuuren, uitvoerende hoof Johan Müller, die raadslede en elkeen wat die gebeure vandag help moontlik maak het. Baie dankie, en baie geluk.”
[email protected]