Trollope tem Boston met sy beste tyd nóg

Padwedlope
Tielman Van Lill
Les Trollope van Windhoek het in moeilike toestande die 128ste Boston-marathon in twee uur 42 minute en 46 sekondes voltooi.
Hy het Maandag, op die Amerikaanse vakansiedag Patriot’s Day, om 10:00 (Boston-tyd; 16:00 in Namibië) saam met 26 596 deelnemers vir die 42.2 km weggespring en sy beste tyd nóg aangeteken.
Die Boston-marathon is die wêreld se oudste jaarlikse marathon (sedert 1897). Bykans ‘n halfmiljoen toeskouers moedig hardlopers gewoonlik op die roete aan.
Trollope het twee jaar gelede besluit hy wil die Boston-marathon aandurf. Aspirerende deelnemers word egter net genooi, of moet aan streng kwalifiserende tye voldoen om in ag geneem te word.
Sy droom is om die wêreld se ses mees gesogte marathons suksesvol te voltooi, die sesster-medalje te verwerf en sy naam op dié ererol te verewig. In alfabetiese volgorde is die topses die Berlyn-, Boston-, Chicago-, Londen-, New York- en Tokio-marathon.
Geen spesifieke tydsduur of volgorde word aan die vereiste gekoppel wanneer die ses marathonne voltooi word nie.

GETROU GEOEFEN
Die afgelope ses maande het Trollope gemiddeld 160 km per week op die lang pad ter voorbereiding bestee, wat ‘n verstommende gemiddeld van omtrent 692 km per maand is.
Trollope vertel: “Ek koester hierdie droom reeds sedert my kinderdae. Ek het twee jaar gelede besluit om aan my droom te begin werk om vir die Boston-marathon te kwalifiseer en sodoende my eerste van die wêreld se ses topmarathonne suksesvol te voltooi op pad na die uiteindelike sesstermedalje.
“Boston was nog altyd die moeilikste om jou inskrywing te verseker, want jy word genooi óf moet aan streng kwalifiserende tye voldoen.
“Die afgelope vier maande het ek ‘n streng oefenprogram gevolg en weekliks gemiddeld 160 km afgelê, om met die wêreld se topatlete skouers te mag skuur.
“Dit was moeilik om by my oefenprogram te hou. Ek moes heeldag werk, oefen en tussendeur my familieverpligtinge nakom. Maar ek het dit baasgeraak.
“Ek het op Dinsdag 9 April na Boston gevlieg om genoeg tyd te hê om te akklimatiseer en van die vlugflouheid ontslae te raak. Boston se tyd is ses ure agter Windhoek.
“Boston word as die strafste van die ses topmarathonne beskou en was ‘n uitdaging soos min. Die rollende heuwels, buitengewone temperature van tot 30 grade Celsius asook hoë humiditeit hierdie jaar het dit ‘n strawwe dag gemaak.
“Maar ek reken dié faktore is deel van dié sport as jy ‘n marathon op hierdie vlak wil hardloop.
“Ek het werklik die kompetisie geniet, styf vasgegord vir die uitdaging waar ek nog my beste uitslag nóg in ‘n padwedloop bewerkstellig het.

LYFSEER
“Indien ek hierdie marathon vergelyk met enige voriges wat ek al voltooi het, was Boston geestelik en fisiek die mees veeleisende. Die klimaattoestande is totaal en al verskillend as waraan ons gewoond is.
“Ek het nog nooit ná 42 kilometer op die pad met ‘n seer lyf gesukkel nie, maar hierdie een het my seergemaak. Aan die ander kant was dit die mees ongelooflike, verrykende en lonende marathon van die hoogste standaard wat ek tot dusver aangepak het en dis waarop ons uiteindelik fokus.
“Dit was beslis 'n eens in 'n leeftyd ervaring. Ek voel baie bevoorreg, geseënd en dankbaar om in die strate van Boston te kon hardloop en Namibië daar onder die wêreld se voorste padatlete te plaas.
“My grootste voorneme in Boston was om die wedloop te geniet, om amptelik in 'n groot marathon te wees. Tweedens wou ek graag my vorige beste marathontyd 2:46 verbeter wat ek twee weke gelede in Swakopmund behaal het om volgende jaar vir Chicago of Tokio te kwalifiseer.
“Hierdie mikpunt het ‘n massiewe poging van my geverg, maar ek het suksesvol vier minute van my vorige beste tyd afgetrek en met ‘n persoonlike beste tyd onder die voorste 2.5 persent van die voltooiers oor die eindstreep gedraf.
“Hiermee het ek uiteindelik bereik waarvoor ek Windhoek verlaat het. Dis 'n wonderlike gevoel om huis toe te vlieg met die wete die missie is suksesvol afgehandel in die sport waarvoor ek lief is. Ek weet nou waaraan ek moet werk sodat ek my persoonlike grense by die volgende groot marathon kan verskuif.
“My Boston-missie sou nie moontlik gewees het sonder die steun en aanmoediging van almal by die huis nie. Baie dankie aan almal wat dit moontlik gemaak het.”