eNuus sluit weervoorspelling vir Namibië in

#NamEnuus #PasIn
Yandi Du Plessis
’n Weervoorspelling vir Namibië vorm voortaan deel van eNuus se weerbulletin. Die voorspelling word aan eNuus verskaf deur People’s Weather.
eNuus, kykNET (DStv-kanaal 144) se nuusbulletin, bring die afgelope 13 jaar aan kykers onafhanklike en geloofwaardige nuusdekking in Afrikaans van gebeure plaaslike en internasionaal.
“eNuus saai nou elke aand die weervoorspelling vir die volgende drie dae vir tien stede en dorpe in Namibië uit,” sê Paul Dunn, eNuus se redakteur. “Dié besluit is geneem op grond van versoeke van talle kykers van Oranjemund tot Oshakati. Ons het in die afgelope ses weke oorweldigende positiewe reaksie hierop van kykers ontvang.”
Waldimar Pelser, M-Net direkteur vir Premium-kanale, sê aanvoorwerk om die Namibiese weer deel te maak van eNuus se bulletin, het geruime tyd gelede al begin. “Die insluiting van Namibië by die bulletin is al jare op ons radar en ons is bly om uiteindelik ons kykers noord en suid van die Oranjerivier op hierdie manier met mekaar te kan verbind.”
People’s Weather is Afrika se enigste weer-, omgewings- en leefstylkanaal.
eNuus word elke aand om 19:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai.