Kuns en musiek onder die sterre

Yandi Du Plessis
Die Night Under the Stars (NUTS)-konserte skop binnekort weer af. Die eerste konsert in dié reeks vir vanjaar vind Vrydag (3 Februarie) plaas.
NUTS, wat in 2014 gestig is, is 'n platform geskep deur die Goethe-Institut in Namibië om beide plaaslike en internasionale musikante te help om hul talente ten toon te stel en verder te slyp.
Om die jaar af te skop bied die Akademie Schloss Solitude, die Nasionale Kunsgalery van Namibië (NAGN) en Goethe ‘n energieke en interaktiewe musiek- en skilderkunsprogram aan met die kunstenaars Banu Çiçek Tülü en Miriam Chebaibai Koch.
Banu Çiçek Tülü is 'n Berlyn-gebaseerde musikant, vervaardiger, platejoggie en navorser wat oorspronklik van Suidoos-Turkye kom. Haar praktykgebaseerde benadering maak gebruik van die artistieke, kulturele en politieke verbeelding as 'n instrument vir maatskaplike verandering. Banu beskryf die genre van musiek wat sy produseer as elektroniese musiek. Sy verduidelik verder dat haar “grootste inspirasie die alledaagse lewe en die stad is. Die beweging van die mense, die gebrom, die chaos, die verkeer, die geraas en die stilte.”
Miriam Chebaibai Koch is 'n Duits-Keniaanse polities aktiewe kunstenaar en psigososiale berader wie se werk die dekolonisering en uitbeelding van swart- en Afrodiasporiese realiteite en Duitse dissonansie ondersoek.
Oor die NUTS-konsert het Banu gesê: “Ek sal die hele nag musiek maak, maar dit sal oop wees vir ander musikante om by te dra tot my klank. Daar sal baie verrassings wees.”
Almal is welkom om saam in hierdie opwindende ervaring te deel. Sluit Vrydag om 19:00 by die Goethe-Institut aan vir 'n heerlike buitemuurse musiek- en kunservaring. Kos en drinkgoed sal te koop wees en toegang kos N$40 by die deur.