Okahandja-groep hoor vandag oor protesaksie

Nampol sal vandag sê of 'n tweede optog na die minister se kantoor in Windhoek toegelaat sal word.
Augetto Graig
Leiers van die Okahandja Concerned Group sal vandag by die Namibiese polisie (Nampol) se streekkantoor op die dorp hoor of hulle toestemming sal kry om hul griewe in die hoofstad te kom lug. Inwoners van dié dorp se informele nedersettings se plan om vir ’n tweede keer om hulp by die minister van stedelike en landelike ontwikkeling te kom aanklop, hang hiervan af.
Polisiebeamptes het wel gewaarsku as hulle met die protesaksie voortgaan sonder bewyse dat hulle die vereiste N$450 betaal het, mag hulle agter tralies beland.
Die groep beplan om eerskomende Donderdag per bus na die hoofstad te reis en op te ruk na die ministerie se hoofkantoor. Hulle het verlede jaar ook die minister en die eerste minister se kantore so genader, maar niks het daarvan gekom nie.
'Bekommerde' groep
Die Okahandja Concerned Group verteenwoordig inwoners van verskeie informele nedersettings van die “tuindorp wat onlangs meer ’n vullisdorp geraak het”, soos Lydia Swartbooi, ’n lewenslange inwoner, dit beskryf. Sy ondersteun die groep namens haar ma en dogter, wat al jare lank in die nedersettings woon. Volgens haar moet hoër owerhede om hulp genader word omdat die munisipaliteit al jare lank versuim om grond of dienste aan inwoners van die nedersettings te bied. Watertoevoer, toiletgeriewe en voorsiening van elektrisiteit vir straatligte is ook hoog op hulle lys van eise. “Ons soek grond, ’n plek om te bly. Ons is bereid om vir dienste te betaal. Hulle sê dit geniet aandag, maar dit sloer al jare so,” sê sy.
Die gemeenskapsaktivis Sethy Gariseb is oortuig dat die sentrale regering moet sal ingryp om ontwikkeling teweeg te bring. Gariseb het verlede week die aansoek en kaart met die roete vir die optog by Nampol op Okahandja ingedien.
Die polisie het die minister van landelike en stedelike ontwikkeling, Erastus Uutoni, oor die beplande protes ingelig, waarna die minister se kantoor ’n brief uitgereik het waarin hy aanbeveel dat hulle eerder die dorpsraad nader. “Hierdie kommunikasie het ten doel om jou en die bekommerde groep te adviseer om die feit te aanvaar dat daar leierskap in Okahandja (dorpsraad) verkies is om as julle direkte verteenwoordigers in ontwikkelingskwessies op te tree. Dus wil ek verder adviseer dat die beplande petisie aan die plaaslike leierskap van die munisipale raad oorhandig word om ’n goeie werksverhouding en voortdurende gesprekvoering tussen julle te versterk,” skryf die minister.
Weersprekende reaksies
Die polisie het nie betaling vir die beplande protes aanvaar nie. Gariseb hou vol dat hulle sal voortgaan, al moet sy ondersteuners in die bus sit en wag terwyl hy alleen die klagskrif gaan indien.
Ons susterskoerant, Republikein, se navraag het weersprekende reaksies opgelewer. Een polisiebeampte het gesê toestemming vanaf die instelling waarteen die protes gerig is, is nodig, en daarsonder kan die polisie nie betaling vir die protes aanvaar of begeleiding bied nie. Nampol se hoofwoordvoerder, adj. komm. Kauna Shikwambi, hou egter vol slegs kennisgewing van ’n beplande protes moet 72 uur voor die tyd aan die betrokke stasiebevelvoerder gegee word. “Dit sou net teleurstellend wees as daar niemand beskikbaar is om die klagskrif te aanvaar nie,” voeg sy by.
Shikwambi het in ’n vorige gesprek met Republikein volgehou dat Nampol Namibiërs se reg om te protesteer beskerm. Hiertydens het sy egter ook die prosedure om die stasiebevelvoerder te nader en die betaling te maak, uiteengesit.
Inwoners van Okahandja het laas maand voor die munisipaliteit geprotesteer oor vullis wat voortdurend nie verwyder is nie. Verder beplan die dorpsraad om inwoners van RCC Kamp na die plaaslike asgate te verskuif. Dit volg op uitsetbriewe wat die eienaar van die grond verlede maand daar laat aflewer het.