PAS IN: Orrelkonsert in die hoofstad

Yandi Du Plessis
Die Suider-Afrikaanse kerk- en konsertorrelistevereniging se Namibiese tak (Sakov-Namibië) bied op 22 September om 19:00 ’n orrelkonsert in Pionierspark se NG Kerk aan. Dit is ’n jaarlikse gebeurtenis waarna bekende orreliste uit Suid-Afrika genooi word om op te tree. Vanjaar se gas is dr. Isabelle van Rensburg. Sy woon in Pretoria, waar sy tans die orrelis by die bekende Universiteitsoord-gemeente is. Sy bestuur haar eie musiekakademie waar sy orrel-, klavier- en musiekteorielesse aanbied. Sy is internasionaal bekend as ’n orrelis van formaat en het al verskeie toekennings ontvang. Isabelle gaan werke opvoer van onder andere Bach, Theo van Wyk, Rachmaninoff en Boëllmann. Plaaslike kunstenaars sal ook deel van die program uitmaak. Die Camerata-sangers gaan ’n paar motette voordra en Hans-Peter Drobisch (fluit), Hermien Coetzee (stem) en Ebbie Becker (orrel) sal ook items lewer.