Windhoek rock kliphard dié naweek

Iréne-Mari van der Walt
Na 'n stampvol musiekgeleentheid verlede jaar met die legendariese Suid-Afrikaanse rockgroep Prime Circle, is dit hierdie naweek weer tyd om te rock in Windhoek! Verskeie plaaslike en Suid-Afrikaanse kunstenaars sal die verhoog aan die brand kuier met verskeie Rock 'n Roll Namibia gunstelinge wat weer terugkeer na dié byeenkoms.
DIE HEUWELS FANTASTIES
Sedert hul eerste vrystellings in 2009, het Die Heuwels Fantasties hulself as een van die gunsteling name in Afrikaanse musiek gevestig met liedjies soos 'Klein Tambotieboom' en 'Pille vir Kersfees'. Heuwels se sukses sou egter nie daar stop nie en sedertdien het hul agt studio albums, wat Wilder as die Wildtuin, Alles wat Mal is en Ja. Nee. Lekker insluit, verseker dat hierdie groep lank nog hul plek in Afrikaanssprekendes se harte en op hul speellyste sal hou.
JO BLACK
Met sy 2016-enkelsnit 'Skepe' het die Pretoriaanse Jo Black die Afrikaanse musiekbedryf ingevaar en by die 2018 Ghoema-musiektoekennings letterlik 'n armvol toekennings verower. Onder die sewe Ghoema's staan onder meer Manlike Kunstenaar van die Jaar en 'n eretoekenning vir Beste Verkoper van die Jaar uit. Aanhangers sal onder meer snitte van die 2022-album Vegter by vanjaar se Rock 'n Roll Namibia kan geniet.
AS NIGHT FADES
Sedert hul begin vroeg in 2016, het As Night Fades 'n blaatjie uit Droomsindroom se boek gevat en 'n kopskudrevolusie in Namibië begin. Met die onlangse vrystelling van hul enkelsnitte 'Where are we then' en 'Morphine' agter die rug, het As Night Fades onlangs die verhoog gedeel met die Suid-Afrikaanse Fokofpolisiekar by die Sound For Sight-konsert in die hoofstad.
VAUGHN AHRENS
Nadat hy eens beskryf is as die wonderkind van Namibiese musiek, het baie water onder die brug geloop vir Vaughn Ahrens. Na die vrystelling van sy debuutalbum Songs For Wednesdays, het Ahrens se musiek groei ervaar voor die vrystelling van sy nuutste album Here Lies Vaughn Ahrens, wat volgens hom 'n simboliese afskeid is aan die weergawe van homself wat hy voorgegee het om die publiek tevrede te stel. Ahrens is ook die gesig agter die onlangse 'Small Talk' en 'You Don't Dance (Like You Used To)'.
GARETH HARVEY
Bekendes soos Catherine Zeta-Jones en Hugh Grant asook Emeritus Aardsbiskop Desmond Tutu het reeds die saksofoon klanke van Gareth Harvey geniet, hoekom sou Rock 'n' Roll Namibia nie? Harvey het vir homself 'n naam gemaak saam met Namibiër Riaan Smit, wat ook by Rock 'n' Roll Namibia te sien is, as deel van die gypsy-blues groep Crimson House. As 'n solokunstenaar het Harvey onlangs die besluit gemaak om vir twee jaar na Namibië te verhuis. Kort na sy aankoms hiér het Harvey homself reeds gevestig as 'n kunstenaar waarna Namibiërs kan uitsien.
LIN-MARI
Na haar 2021 wen by die Voice of Namibia-sangkompetisie het Lin-Mari die nasie se harte verower. Sy het in haar jaar as die Voice of Namibia hoofstroomsukses in Namibië behaal met haar Afrikaanse danstreffer, Alles - 'n afwyking van die sagte en sentimentele melodieë wat sy voorheen met aanhangers gedeel het. Sy hoop om die land se voete weer 'n keer te laat stamp met die dansnommer wat sy tans in die mou voer.
PIERRE PIENAAR
Namibiese Pierre Pienaar het oor die jare nagklubs wêreldwyd aan die dans gehad as platejoggie, maar het nog nie sy wortels op Kamanjab en Windhoek vergeet nie. Hy vertel hy sien uit om hand te skud met sy mede-Rock 'n Roll Namibia kunstenaars Die Heuwels Fantasties na hy onder een van sy verhoogname Pierre Pressure 'n enkelsnit saam met dié groep vrygestel het.
RIAAN SMIT
Nadat hy oorspronklik teruggekeer het na Namibië om gedurende die Covid-19-pandemie tuis te wees, vertel Riaan Smit hy is gelukkig gevestig in Namibië. Toe die stof gaan lê oor die musiekbedryf het Smit die taak aangevat om meer struktuur aan die Namibiese musiekbedryf te bring. Met die stigting van sy maatskappy, Tribe One Productions, het Smit verskeie plaaslike kunstenaars insluitend Lin-Mari, Sagarias Tsam en The Yesterday onder sy vlerk geneem. Ongeveer drie jaar na sy terugkeer na Namibië, het Smit steeds gehore landswys aan die dans wanneer hy sy kitaar nader trek.
SAVANNAH COLLINS
Savannah word gereeld getel as Namibië se eerste 'rocker chick', maar met wortels in country en blues geplant, het Collins haarself gevestig as 'n musikant ineie reg. Haar 2017 album Be Free het haar rasperstem blitsvinnig een van die gunstelingstemme in Namibië gevestig. Sy wy ook haar tyd en talent aan die bemagtiging van jong sangers in Namibië as musiekonderwyseres deur haar musiekskool, Songbird Vocal Studio.