Alouise maak ’n paar draaie met nuwe enkelsnit

Paar Draaie is ’n splinternuwe akoestiese pop-liedjie oor hoe die Suid-Afrikaanse liedjieskrywer en sanger Alouise, haar dae verwyl en hoe sy tyd maak om net te wees in ’n besige lewe.
Die multi-instrumentalis, Alouise Peens het vroeër vanjaar haar eerste enkelsnit, Dis Jy, as solokunstenaar uitgereik.
Paar Draaie is ook uit Alouise se eie pen. Die liedjie is geïnspireer deur haar passie vir bewusmaking van geestesgesondheid en vertel hoe dit soms moeilik is om deur ’n dag te kom, en wat sy nodig het om veral die moeilike dae makliker te maak.
“Dit is vir my lekker om rond te ry, musiek te luister en dit ook dan te doen saam met mense vir wie ek omgee en wat lewe saam my deel,” sê Alouise oor Paar Draaie.
Sy het Paar Draaie geskryf tydens die pandemie in ’n tyd wat sy net uit die huis wou kom, maar nie toegelaat was nie. “Om musiek te skryf help my om dinge te verwerk en hierdie liedjie is presies dit. Ek dink baie mense kan daarmee vereenselwig. Luisteraars kan saam met my ʼn paar draaie ry en die melodie gaan beslis in hulle koppe vassteek.”
Die musiekvideo is in ’n Valiant geskiet en Alouise vertolk al die karakters wat in die motor ry. Alouise het self die video se konsep en storielyn ontwikkel.
Alouise sê sy wil hê haar musiek moet mense laat ontspan, lag, aan die dink sit en ’n rukkie laat vergeet van al die moeilike goed wat ons elke dag tee kom.
Die musiekvideo maak amptelik op 29 September sy YouTube-debuut.