Arno Carstens se nuwe EP vrygestel

Die bekroonde Suid-Afrikaanse sanger Arno Carstens se nuutste Afrikaanse skepping, ’n 5-snit EP getiteld “Sewe Sakke Hoop”, is pas uitgereik.
Carstens is bekend vir sy evokatiewe en dinamiese musiek en met die nuwe EP bou hy voort daarop om kragte te bly smee met sy diep Afrikaanse wortels.
Die eerste enkelsnit “Hoe Gaan Dit”, is reeds vroeër vanjaar uitgereik. ’n Persoonlike vriend wat landuit is het Carstens geiïnspireer om hierdie besonderse liedjie te skryf. “Hoe Gaan Dit” delf in die rou emosies en leemtes wat gelaat word deur vriende wat geëmigreer het, terwyl die tweede enkelsnit, “Nagblind”, die kompleksiteit ondersoek van persepsies en die menslike neiging om ten spyte van teenkanting en probleme, altyd hoopvol te bly.
Die liedjies op “Sewe Sakke Hoop” besin tematies oor die globale impak op plaaslike kulture en persoonlike identiteite, en bied musiek as ’n verenigende en vertroostende teenwoordigheid.
Carstens vertel dat “Sewe Sakke Hoop” gebore is uit ’n onstuimige agtergrond van globale en plaaslike veranderinge. Dit is ’n baken van solidariteit, wat ons daaraan herinner dat hoop te midde van die kakofonie die universele taal bly wat vertroosting en begrip bied.
Sien die video van “Nagblind” hier: https://youtu.be/zpJMcU_yAGQ
Sien die video van “Hoe Gaan Dit” hier: https://www.youtube.com/watch?v=YjbDH6xIxwk