Cantare sing vir kanker

Die jaarlikse Christmas Memories konsert ten bate van die Kankervereniging van Namibië (CAN) vind op 20 November om 19:00 in die NG Kerk Eros plaas.
Tydens hierdie konsert sal die Cantare Audire koor as gaskunstenaars optree, onder die bekwame leiding van Martina Visser.
Die volledige Requiem van Gabriel Fauré, ’n werk vir koor en soliste, sal met orrelbegeleiding uitgevoer word met Ebbie Becker as orrelis. Die soliste is Lyvodia Ouses en Eslon Hindundu wat al menigmale as soliste opgetree het en geen bekendstelling nodig het nie.
“Alhoewel dit ’n Kersuitvoering is en ’n requiem dalk klink na ’n somber keuse vir die feestyd, verskil Fauré se requiem van ander soortgelyke werke,” aldus organiseerder Hermien Coetzee. “Waar ander requiems ingestel is op die morbiede sy van die dood, bring Fauré eerder die rustige kalmte en vredevolle aard van die dood na vore. Dis dan waarom hierdie requiem gekies is as volledige werk vir hierdie jaar se Christmas Memories konsert.”
Die res van die program bestaan uit tradisionele Kersliedere en gemeentesang wat deur Ebbie Becker op die orrel begelei word. Senior sangstudente van die College of the Arts sal as soliste optree.
Hierdie konsert, wat ’n inisiatief van die College of the Arts (CoTA) is, vind plaas ten bate van CAN. Konsertgangers kry dan ook ná die konsert die geleentheid om ’n donasie te maak.
Kaartjies kos N$100 vir volwassenes en N$50 vir kinders en pensioenarisse, en is by die deure beskikbaar.