Jemma Catherine het ‘Klaar Gesmeek’

Die boodskap van die opkomende Suid-Afrikaanse sangeres en liedjieskrywer Jemma Catherine se jongste enkelsnit is hard en duidelik: Dié talentvolle donkerkop het klaar gesmeek!
Klaar Gesmeek is die jongste uitreiking uit Jemma Catherine se eie pen. Die liedjie handel oor ’n verhouding wat tot ’n einde gekom het nadat die ou sy meisie verneuk het. Sy besluit dan om op te staan vir haarself deur te sê genoeg is genoeg.
Klaar Gesmeek is ’n energieke, passievolle poprock-snit met ’n onderwerp waarby luisteraars in die algemeen sal aanklank vind. Dee Graaff Productions het die liedjie vervaardig. Jemma Catherine se mentor, die sangeres en liedjieskrywer Janie Bay, het insae gelewer.
“Ek dink veral die jeug kan aanklank vind by die liedjie omdat oneerlikheid baie prominent is in vandag se verhoudings en daar is ongelukkig baie mense wat al van tevore in so ’n situasie was,” sê Jemma Catherine oor die boodskap van die liedjie.
Die musiekvideo vir Klaar Gesmeek speel af tydens ’n skooldans en regdeur die video speel verskillende scenario's gelyktydig af waar die ouens die meisies ontstel of teleurstel.
“Dit lei na die meisies wat besluit om hulle metgeselle te los en saam die aand eerder met mekaar saam te geniet,” sê die jong musikant oor die konsep van die video.
Die video is by die Monte De Dios-landgoed in Pretoria se hoofsaal geskiet deur CoolerBox Brothers.
“Ek glo baie mense sal kan aanklank vind met Klaar Gesmeek, maar ek voel veral jong meisies sal hierdie liedjie kliphard kan saam sing.”
Jemma Catherine het die nuwe jaar in die ateljee agter die mikrofoon afgeskop. Sy reik binnekort ’n hele rits liedjies uit en het ook ‘n duet saam met ‘n ander bekende kunstenaar wat die lig sien.
Sien die video hier: youtube.com/watch?v=5ocKNwh6r0E