Kletsrymers sê mekaar die stryd in Reho aan

Platform vir die jeug
Een van Namibië se beste kletsrymers, DiChef, sal tydens die Rap Battle optree.
Yandi Du Plessis
Vir die eerste keer in die dorp se geskiedenis gaan Afrikaanse kletsrymers (rappers) die geleentheid kry om hul staal op hul tuisgrond te wys.
Die Afrikaanse Rap Battle word eerskomende Saterdag vanaf 18:00 by Le Palace op Rehoboth aangebied. Dié unieke geleentheid het hoofsaaklik ten doel om die kuns van Afrikaanse rap in dié dorp te bevorder. Die mikpunt is ook om 'n platform vir die jeug te skep om hul kreatiwiteit uit te leef, en die blootstelling aan die Afrikaanse taal as kunsvorm is hoog op Kuile Entertainment, die organiseerders, se agenda.
Rehoboth sê manlike én vroulike aspirant-kletsrymers word aangemoedig om in te skryf en deel te neem. Deelname is N$50 per rapper. Groot pryse is op die spel vir die topdrie-rappers. Die wenner sal wegstap met ‘n kontantprys van N$1 000 en ‘n Hip Hop Gear-geskenkpakkie.
Fabian Nel, die eienaar van Kuile Entertainment, sal ook tydens die geleentheid kospakkies vir 200 mense in die dorp weggee.
Een van Namibië se beste kletsrymers, DiChef, sal tydens die Rap Battle optree – met ’n spesiale huldeblyk-optrede vir die ontslape kunstenaar A-Block Cuzzle (Oom K) deur die loop van die aand.
Toegang vir die publiek is N$10 per persoon en verversings sal te koop wees.
Kontak Hiskia by 081 654 9464 vir verdere navrae.