Kort skryfskool dié naweek in Windhoek

Yandi Du Plessis
Nadine Petrick en Hannes Barnard, albei verbonde aan Lapa-uitgewers en skrywers wie se werk reeds gepubliseer is, bied eerskomende Saterdagoggend 'n kort skryfskool aan by die Erfdeel-Kultuursentrum (op die hoek van Simeon Lineekela Shixungileni- en Blohmstraat).
Tydens dié sessie vanaf 09:00 tot 11:00 fokus hulle op die skryfproses en publikasieprosedure.
Nadine het kortverhale gepubliseer in twee bundels wat reeds verskyn het. Die skool vir Rampspoedige talente (vir laerskoolkinders) en Tyd is ‘n bl**sem (vir hoërskoolkinders) is spesiaal saamgestel om die onderwysers te help met wat in Suid-Afrika bekend staan as die letterkundeprojek. Die boeke bevat kortverhale, gedigte, dramas en volksverhale. Sy is ‘n paar jaar gelede benoem vir ‘n Rapportprys vir beste Afrikaanse resensie van die jaar.
Hannes het sy debuut in 2019 gemaak met sy historiese Apartheidsera-grootwordroman, Halley se komeet. In 2020 volg sy jeugroman Wolk, en die opvlog, Roet, in 2021. Beide hierdie jeugromans is benoem vir die kykNET-Rapport-prys in die film-kategorie (boeke wat hoogs verfilmbaar is). In 2022 verskyn Halley’s Comet (sy vertaling van Halley se komeet) wêreldwyd. Internasionaal word dit deur Catalyst Press uitgegee en in Suid-Afrika deur Penguin. In 2022 verskyn sy eerste misdaadfiksieroman, Die Wet van Gauteng, asook sy kortverhale in drie skolebundels: Die Skool vir Rampspoedige Talente, The Vegan Vampire en Tyd is ‘n bl**sem.
Nadine is betrokke by die bemarking van kinder- en jeugboeke by Lapa, terwyl Hannes ’n verkoopsbestuurder in die skole-afdeling is.
Die twee sal ook Vrydagaand ’n ekstra geleentheid by Sartrestraat 24 in Academia aanbied.
Belangstellendes kan Nicoline Woest per WhatsApp by 081 266 1786 kontak vir navrae en om ’n plek te bespreek.