Namibiese kuns pronk binnekort in Kaapstad

Yandi Du Plessis
Die uitstalling Unmourned Bodies - saamgestel deur Jo Rogge en aangebied in samewerking met die Project Room-galery - volg 'n veelvlakkige benadering om die werk van Namibiese kunstenaars aan 'n nuwe gehoor in Suid-Afrika ten toon te stel.
Dié grensverskuiwende uitstalling open op 9 Maart 2023 by die Ava-galery in Kaapstad.
Die Ava-galery, ofte wel die Vereniging vir Visuele Kunste, is Kaapstad se oudste niewinsgewende kunsgalery wat die beste in kontemporêre Suid-Afrikaanse kuns ten toon stel.
Histories het dié uitstalruimte noue bande met die ontwikkeling van kuns in Namibië. Die Suidwes-Afrikaanse Kunstevereniging (SWAA), gebaseer in Windhoek, is in 1947 as 'n tak van die Suid-Afrikaanse Kunstevereniging (SAAA) gestig.
Dit is in hierdie verband dat die huidige uitstalling - terwyl dit hulde bring aan die historiese bande tussen die twee verenigings - poog om die koloniale voorstelling van Namibiese kulturele kunsskepping deur inklusiwiteit reg te stel, asook om die kontemporêre vervaging van die lyn tussen van kuns en kunsvlyt uit te lig deur kunstenaars te kies wat met nie-tradisionele materiale werk.
Hierdie kunstenaars is genooi om die argief van die Namibiese Kunstevereniging (NAA) te besoek, 'n werk uit die versameling te kies waarby hulle persoonlik aanklank gevind het, en om 'n unieke kunswerk van hul eie in reaksie daarop te skep, met 'n paar interessante en verrassende resultate.
Die betrokke kunstenaars is Maria Caley, Stephanie Conradie, Actofel Ilovu, Tangeni Kambudu, Maria Mbereshu, Tuli Mekondjo, Lynette Musukibili, Ndako Nghipandulwa, Jo Rogge en Rudolf Seibeb.
Unmourned Bodies word tot 20 April in die Ava-galery uitgestal. Hou die Project Room-galery (The Project Room – Namibia) se Facebookblad dop vir in diepte-profiele van die Namibiese kunstenaars wie se werk deel van dié uitstalling sal vorm.