Nuwe folk-rock kinders op die blok

Band Or Bust-wenners reik eerste enkelsnit uit
Die folk-rock groep Van Der Aven (bestaande uit Roelof van der Merwe, Theunis van der Merwe en Paul Avenant) is een van die mees opwindende nuwe musiekgroepe in die Afrikaanse musiek-landskap.
Hoewel hulle al ’n hele rukkie saam optree (as BrotherBrother) het Van Der Aven in Maart 2020 die kollig gesteel toe hulle die musiekplatform Texx and the City se “Band Or Bust”-kompetisie by die Toyota Woordfees gewen het.
Dié kompetisie het meer as 250 inskrywings opgelewer waarvan vyf finaliste in die finale rondte moes meeding. Van Der Aven het die beoordelaars Theo Crous, Karen Zoid, Wynand Myburgh and Tecla Ciolfi só beindruk, dat hulle eenparig op die trio as die wengroep besluit het.
Ciofli sê dat sy hulle inskrywingslied luister, sy dadelik geweet het daar is iets spesiaal aan die groep. “Hierdie ouens het die vermoë om op ’n suiwer emosionele vlak met hul gehoor te kommunikeer en ’n mens ligter te laat voel.”
Theo Crous voeg by: “Wat hierdie groep besonders maak, is die drie-deel harmonieë waarmee hulle werk. Ons het nog nie so iets in Suid-Afrikaanse musiek nie. Dit maak hulle klank heeltemal uniek.”
“Heimwee” is Van der Aven se eerste Afrikaanse enkelsnit. Die lirieke is vanaf ’n oorspronklike gedig deur die Afrikaanse skrywer en digter JRL van Bruggen. Hy het hierdie gedig geskryf tydens sy studies in Nederland toe hy terugverlang het na die wye vlaktes van Suid-Afrika.
Roelof het op die woorde van “Heimwee” afgekom toe hy tydens die eerste maand van die grendeltydperk in Suid-Afrika in 2020, via Google na die Afrikaans woord vir homesick gesoek het. Hy was alleen in ’n klein woonstel in Stellenbosch en het verlang na die ooptes van sy tuiste in die Karoo. Hy het dadelik by die gedig aanklank gevind en is geïnspireer om sy eie musiek daarvoor te skryf.
EP sien die lig
Vir twee jaar na “Band Or Bust” en toe die grendeltydperk uiteindelik in 2022 verby is, het Van Der Aven besluit om hul EP wat in Augustus vanjaar uitgereik word, by Jürgen von Wechmar by Sunset Studios in Stellenbosch op te neem.
“Heimwee” is die eerste enkelsnit vanaf hierdie kort nuwe album.
’n Klassieke weergawe van “Heimwee” was oorspronklik deur Mimi Coertse opgeneem. Van Der Aven se weergawe van die liedjie is op 10 Junie uitgereik en hulle het eers onlangs verneem dat Mimi Coertse op 12 Junie 90-jaar-oud geword het. “Dit is ongelooflik hoe hierdie dinge uitwerk. Ons het groot respek vir haar en wat haar musiek vir die skatkis van Afrikaans beteken,” sê Roelof.
Nog ’n sielvolle weergawe van “Heimwee” is deur Coenie de Villiers in samewerking met Jan Blohm en Mauritz Lotz op sy album “Hart van Glas” uitgereik. Coenie het die groep laat weet dat hy baie hou van wat hulle met die liedjie gedoen het. “Dit is ’n fantastiese weergawe. Ek hou veral van die gatskop instrumentale brug. Welgedaan julle!”
Stroom “Heimwee” by https://song.link/s/1XGdPfuiHlzi5BZNOM36Ni of luister hier: https://www.youtube.com/watch?v=eYx4STlnRmA