Rolprentteaters trek nuwe baadjie aan

Staan die kans om fliekkaartjies te wen
Die twee Ster-Kinekor-rolprentteaters in Windhoek sal op 1 Desember hul deure heropen.
Kristien Kruger
Fliekgangers kan uitsien na opgegradeerde klank- en beeldkwaliteit by die twee Ster-Kinekor-rolprentteaters in Windhoek nadat die teaters sowat twee maande gesluit was vir opknappingswerk.
“Met die twee teaters wat opgeknap is tot Ster-Kinekor se hoë gehaltestandaarde, is die spanne in Windhoek gereed en opgewonde om fliekgangers vanaf 1 Desember terug te verwelkom,” het die Ster-Kinekor-span by monde van sy hoofwoordvoerder, Janet de Kretser, gesê.
Buiten vir ’n deeglike skoonmaaksessie, uitgebreide herstelwerk en ’n nuwe voorkoms, is die IT-infrastruktuur en netwerkstelsel ook opgegradeer.
Die teater by die Grove-inkoopsentrum sal voortaan met 14 handelspunte spog en Maerua Mall-inkoopsentrum met tien.
Digitale skerms is in beide teaters se voorportale geïnstalleer om rolprente te adverteer wat binnekort in die teater begin draai en voorprente te speel, asook vertoningstye en pryse vir eet-en drinkgoed te vertoon.
Volgens Ster-Kinekor is van die stoele herstel, ligte is vervang en dele van die teater is oorgeverf. Teëls is vervang, deure is reggemaak, matte is herstel waar nodig en die badkamers is opgeknap.
Die handelstekens binne en buite die teaters is vervang en beide die toonbanke waar kaartjies en eetgoed verkoop word, is verander om die algemene voorkoms van die teaters te verbeter.
Ster-Kinekor hou ’n amptelike opening op 1 Desember.
WENKAARTJIES
Jy staan die kans om twee fliekkaartjies te wen na die fliek van jou keuse deur deel te neem aan Republikein se #KomOnsGaanFliek-kompetisie.
Die eerste stel kaartjies is reeds weggegee, en twee wenners staan nog die kans om in die komende week met kaartjies weg te stap.
Vir rondte twee van die kompetisie kan deelnemers #KomOnsGaanFliek na 085 785 6231 whatsapp met die naam van hulle gunstelingakteur of -aktrise.
[email protected]