Ruan Josh vat die houe
Die lewe deel daagliks houe uit wat ’n mens soms namens jou geliefdes ook moet vat – iets waarvan die sanger en liedjieskrywer Ruan Josh eerstehandse ervaring het.Ruan se splinternuwe enkelsnit Vat Die Houe is ’n kontemporêre snit met diep lirieke wat handel oor die uitdagings wat ’n mens elke dag in die gesig staar.
“Ons bevind onsself gereeld op plekke waar ons veroordeel word deur mense, al ken hulle nie eers die volle waarheid nie. Hulle gee jou nie kans om te verduidelik en jou kant te stel nie en meeste kere is dit net beter om stil te bly en die houe te vat,” verduidelik Ruan die boodskap van Vat Die Houe.
“Ons almal vat houe vir ons geliefdes en ons hoop dat hulle eendag sal besef hoeveel jy opgeoffer het vir hulle en hoeveel houe jy moes vat om hulle tot ’n mate veilig te hou.”
Ruan het die liedjie saam met Pierre Rossouw geskryf. Dit is geïnspireer deur Ruan se persoonlike ervaringe. Daar was baie moeilike keuses wat hy moes maak waar hy van homself moes vergeet en kies wat beste is vir die groter prentjie, sê Ruan.
“Mense het opinies gehad en hulle was soos wolwe, maar ek het besef ek moet net vas staan en op kyk.”
Ruan glo luisteraars sal vereenselwig met die treffende lirieke en melodie van Vat Die Houe en glo die liedjie sal mense laat dink en besef dat ons almal maar saam deur dinge gaan.
Die musiekvideo vir Vat Die Houe het ’n eenvoudige konsep, met ’n enkelskoot van Ruan wat in die kamera sing. Dit is saam met Donovan Ekron geskiet by sy ateljee in Waterkloof, Pretoria.
Vat Die Houe is die volgende enkelsnit vanaf Ruan se splinternuwe vollengte album getiteld Wysers. Dit volg op die treffer-oorwurm Ligte Af, wat vroeër vanjaar uitgereik is. “Ek is baie opgewonde hieroor, want ek voel dis my beste werk tot dusver.”
Kyk die video hier: https://q.my.na/NI65