Ruhan du Toit vier drie dekades met vele hoogtepunte, oud en nuut
Vir drie dekades hou Suid-Afrika se Ruhan du Toit aanhangers gevangene met magiese vertonings en hoendervleis-vertolkings en met sy nuwe vrystelling, Stockholm Sindroom, wat ook die eerste enkelsnit is vanaf ’n splinternuwe album, gaan hy aanhangers beslis vrywilliglik in sy vangnet hou.“Die ware betekenis van 'Stockholm Sindroom' is dat ’n persoon verlief raak op iemand wat hom of haar gevangene hou. ’n Mens is juis nie noodwendig altyd in beheer van jou emosies nie, en soms bring dit jou in die pekel. Hier raak jy verlief op iemand wat jy nie eintlik op verlief sou of moes kon raak nie,” het hy verduidelik.
Dié liedjie handel oor iemand wat onder vreemde omstandighede sy of haar hart verloor op iemand.
Volgens Ruhan gaan die liedjie baie verskillende betekenisse hê vir verskillende mense, aangesien geen twee mense se agtergronde dieselfde is nie. “Ek het byvoorbeeld ná die beëindiging van my eerste huwelik gesê ek sal nooit weer in ’n verhouding wees nie en ’n jaar later is ek met die ongelooflikste mens getroud. So ek sou sê myne het mooi uitgewerk,” sê die sanger.
Stockholm Sindroom is uit die pen van die bekroonde liedjieskrywer Johan Oberholzer. Dit spog met ’n pragtige melodie, heerlike vasdanstempo en treffende lirieke sal aanklank by Afrikaanse musiekluisteraars vind.
“Ek floreer op emosie en dit is ook wat ek wil oordra. Elke lied moet jou na ʼn plek of tyd in jou lewe neem. Lank terug of so onlangs soos nou in hierdie oomblik,” sê Ruhan.
Stockholm Sindroom is deel van ’n EP wat nou, ter viering van sy dertig jaar in die industrie, vrygestel word.
’n Terugblik
“Wat ‘n voorreg om deel van die Suid-Afrikaanse musieklandskap te kan wees,” het hy oor dié mylpaal gesê.
In ’n kompeterende industrie het Ruhan met gemak diep in musiekliefhebbers se harte geklim en speel sy musiek op radiogolwe landwyd. Ruhan is bekend vir veelsydige genre van musiek, wat strek oor ses tale, en vier oktawe, is hy ewe tuis op ’n internasionale verhoog as om ’n bosveldvuur met ’n handjie vol uitgesoekte gaste.
“Terwyl ek nou ook bietjie nostalgies raak oor my lewenspad en al die draaie waarop dit my geneem het, kan ek nie help om terug te dink aan my eerste album wat ek in 1994 vrygestel het nie. Ek was elf jaar oud en reg om die bedryf aan te pak. Dit was ’n wonderlike pad, met hoogte- én laagtepunte, tot waar ek nou vandag staan,” het hy vertel.
In 2000 reik hy en sy broer ’n duetalbum, Sound of Silence uit. Ruhan is steeds bekend vir dié weergawe wat hy in 2016 op die Afrikaans is Groot-verhoog met aanhangers gedeel het. Tot op hede het The Sound of Silence-musiekvideo groot sukses aanlyn bereik en is dit al deur meer as 11 miljoen mense op YouTube gestroom.
Luister hier na Stockholm Sindroom: https://RuhanduToit.lnk.to/StockholmSindroom