SA se Alouise maak solo-debuut

In Alouise Peens se debuutenkelsnit as solokunstenaar, Dis Jy, maak sy hart oop oor haar gevoelens van jaloesie en verlange wanneer sy nie naby haar geliefde kan wees nie.
Dis Jy is ’n rou en eerlike, akoestiese-popliedjie uit Alouise se eie pen. Alouise is ’n bekwame musikant wat bekend is as musikant in onder meer Bok van Blerk se orkes.
In Dis Jy, sing sy oor hoe alles naby aan die persoon vir wie sy lief is kan wees, behalwe sy self.
“Dit is meer soos ’n tipe verlange wat ek ervaar wanneer ek nie by my geliefde kan wees nie en ek is jaloers op alles en almal wat na aan die persoon kan wees. Ek het besef dat mens alledaagse goed vanselfsprekend aanvaar en dat ‘n mens jaloers is op daardie goed.”
Die liedjie is tydens die inperking weens die pandemie geskryf. Sy is geïnspireer deur die wêreld se gebruik van sosiale media en hoe mense daarop staatgemaak het om verbind te voel.
Alouise sê sy het darem die twee goed wat sy altyd by haar het – haar kitaar en haar hondjie, Logic – tydens die pandemie by haar gehad om haar deur te dra.
Alouise sê dit was belangrik om eg te wees met die lirieke, aangesien dit haar eerste enkelsnit is. Dit moet luisteraars laat dink aan iemand wat vir hulle spesiaal is en na spesiale tye vervoer.
Alles spesiaal
“Mense moet dink aan die spesiale tye, liedjies wat vir hulle spesiaal is en die TikTok-videos en Instagram-inskrywings wat hulle saam gemaak het. Ek wil hê hulle moet glimlag as hulle na die liedjie luister en dan vir iemand daarvan vertel.”
Alouise is al vir jare doenig in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf en betree nou die voorgrond met hierdie enkelsnit.
“Ek wil hê mense moet my hart hoor en hoor hoe Alouise klink. Ek het vir jare aan ander mense se drome gebou en dit is nou bietjie my beurt.”
Daar is ’n hele paar liedjies wat wag om die lig te sien. Sy is lief vir skryf en sy deel haar hart met mense deur haar musiek.
Sy en Zander de Beer het saam die konsep van die musiekvideo geskep. Dit is by Hemels Café geskiet in ’n spierwit Licht-ateljee. Wat dit uniek maak is die swart en wit voorkoms, wat dit ’n sagtheid gee met speelse kleurelemente wat jou twee keer sal laat kyk.
Alouise is ook ’n sakevrou met haar eie aanlyn onderneming en ’n kranige fietsryer wat al tien keer die Cape Argus-fietstoer voltooi het. Alouise bespeel ook ‘n verskeidenheid instrumente, insluitend die tromme, baskitaar, elektriese kitaar, akoestiesekitaar, ukelele en klavier.
Kyk die video hier: https://youtu.be/v41odreX9Uc