SA se Ruan Josh sit ‘Ligte af’

Gerine Hoff
Wat moet jy doen as die ligte afgaan en jy kan nie kuier nie?
Jy maak ’n vuur, nooi almal wat jy ken en hou in elk geval heelnag partytjie tot die bure kla!
Met Ruan Josh se splinternuwe enkelsnit, Ligte Af, herinner hy Afrikaanse luisteraars dat ’n mens steeds kan pret hê ten spyte van die harde werklikheid van beurtkrag in Suid-Afrika. Ná ’n droogte van twee jaar gaan Ruan nou die voete laat jeuk en dansvloere regoor die land vol maak met dié enkelsnit.
“Ek sal daarvan hou as mense die persoon naaste aan hulle wil gryp en die heupe bietjie swaai met dié liedjie - en natuurlik uit volle bors saamsing,” vertel Ruan opgewonde.
Ligte Af is juis geskryf om voete na die dansvloer te lok en het ’n tipiese Euro-pop klank. Dié liedjie saam deur Ruan en sy musikale suster, Franja du Plessis, gepen en hy het vertel dat die inspirasie vir die liedjie geput was uit die daaglikse frustrasie van ontydige beurtkrag.
“Ek is ’n ewige optimis en probeer die beste van elke saak maak - so dan dryf ons maar die spot met ons frustrasies deur middel van ons musiek,” sê Ruan.
Die musiekvideo vir Ligte Af het ’n storielyn waarin elke kyker homself kan inleef en beeld die voorreg uit om in dié tye wel toegang tot ’n kragopwekker van ’n aard te hê.
“Ons het hande geneem met Zuider Energy wat hul Tesla Powerwall in die musiekvideo ten toon stel. Te danke aan herlaaibare litium-ioon battery wat energie stoor, kan die partytjie in die musiekvideo voortgaan en is dit dan ook die enigste huis in die straat waar daar ligte brand,” vertel Ruan.
Ruan is self aan die stuur van die kreatiewe en uitvoerende aspekte van sy musiekvideo’s. Eric Graham van ETG Creative behartig die verfilming en vervaardiging.
’n Vollengte album, waaraan Ruan al vir vyf jaar lank werk, sien ook binnekort die lig en Ligte Af is die eerste enkelsnit vanf dié album. Hy toer ook soveel as moontlik die land plat en is gaande oor elke oomblik op die verhoog.