'Side by Side'-uitstalling 'n soet kunservaring

Yandi Du Plessis
Namafu Amutse en Candice Mouton se gesamentlike uitstalling getiteld Side by Side is tans by die Sweet Side of Thingz-kafee en bakkery in Windhoek se middestad te sien. Hierdie uitstalling is vir die eerste keer in Februarie vanjaar vertoon en is terug op aanvraag vir 'n tweede installasie in 'n ander venue.
Die twee se skilderye en foto's wat aan die mure van hierdie ruim kafee in die hartjie van die hoofstad gehang is, vertel hul stories in 'n nuwe omgewing. Hierdie unieke omgewing bied unieke geleenthede, en almal word genooi na 'n Art and Doughnut-geleentheid op 15 April om 11:00.
Sweet Side of Thingz spesialiseer in heerlike oliebolle, en die span daar gaan een van dié lekkernye skep wat deur die uitstalling geïnspireer is. Jy kan een van die eerstes wees om dié nuwe soetigheid by hierdie geleentheid te koop en te geniet.
Toegang is gratis en oop vir almal!
Hierdie uitstalling is die eerste in die 2023 Side by Side-uitstallingsreeks wat deur die StART-galery saamgestel is. Die sentrale tema van die sreeks is naasmekaarstelling. Deur net twee kunstenaars se werk naby mekaar te plaas, skep dit ruimte vir dialoog en uiteindelik unieke interpretasies.
Namafu en Candice het ontmoet terwyl hulle op skool was. Hulle is albei jong, selfgeleerde kunstenaars in die vroeë stadiums van hul kreatiewe loopbaan.
Terwyl Namafu hoofsaaklik in die digitale gebied met foto's en video's as mediums werk, is Candice 'n skilder en illustreerder. Ten spyte van die gebruik van verskillende mediums, deel die twee kunstenaars 'n soortgelyke motivering. In hierdie uitstalling beeld Namafu se foto's en Candice se skilderye intieme oomblikke uit wat verband hou met kinderjare en -herinneringe.