Slaap jy al?

Van Der Aven reik video uit vir nuwe enkelsnit
Die gewilde Suid-Afrikaanse groep Van Der Aven het pas ’n video uitgereik vir die tweede enkelsnit vanaf hul debuut EP (Van Der Aven) wat einde 2022 uitgereik is.
Die liedjie Slaap Jy Al word tans op radio-speellyste gelaai en kry nou ook ’n nuwe baadjie met die uitreiking van ’n musiekvideo.
Slaap Jy Al bespreek die idee van onsekerheid en miskommunikasie in verhoudings en verteenwoordig Van Der Aven se groei na ’n meer alternatiewe rock klank. Slaap Jy Al volg kort op die hakke van die groep se debuut-liedjie, ’n oorspronklike verwerking van die gedig Heimwee wat deur JRL van Bruggen geskryf is.
Heimwee speel tans op stasies landwyd insluitende RSG, Jacaranda FM, Bok Radio, Groot FM en vele meer.
Slaap Jy Al is die eerste enkelsnit van Van Der Aven waar hul eie oorspronklike lirieke tentoongestel word. Die EP is opgeneem by Sunset Recording Studios net buite Stellenbosch met die hulp van die bekende musiekregisseur Jürgen von Wechmar.
Oor die nuwe lied verduidelik skrywer, sanger en kitaarspeler, Roelof van der Merwe, “Slaap Jy Al is een van ons gunsteling songs om op te tree vir gehore, want ons kan sien en hoor hoe mense hulself meeleef en verloor in die musiek. Die lied vertel die storie van kwesbaarheid, onsekerheid en twyfel en kom vra dan die vrae: leef ons bymekaar verby of hoe naby is ons daaraan om mekaar te verloor?”
Vir Slaap Jy Al se musiekvideo het Hugo Brand, (hy het ook die groep se debuut-musiekvideo geskiet) weer eens sy rol as videograaf ingeneem saam met SW Strauss as vervaardiger. Brand en Strauss het al voorheen saam gewerk op film en televisie produksies, maar hierdie is die eerste musiekvideo wat hulle saam aangepak het. Die akteurs Lara Hattingh en Len-Barry Simons speel die paartjie in die video.
Kyk die video hier