Uitstalling bied terugblik op grootwordherinneringe

Yandi Du Plessis
Die Project Room-galery se eerste plaaslike uitstalling vir die jaar open vanaand om 18:00.
Lynette Musukubili beskryf haar eerste solo-uitstalling, getiteld Bukalo Stories, as volg: “Dit gaan oor ons lewens en grootwordjare vroeër in die dorpie. Vir my het hierdie tradisies lewenslange herinneringe geskep. My mees gekoesterde herinneringe van kleintyd kan teruggekoppel word aan sekere tradisies wat ek met my familie gedeel het.”
Bukalo is 'n plaaslike dorpie wat in die Zambezistreek geleë is - 43 km vanaf Katima Mulilo.
Nadat sy haar skoolloopbaan in 2016 voltooi het, het Lynette haar akademiese reis by die Universiteit van Namibië (Unam) begin en 'n diploma in plaaslike regeringstudies gevolg. Halfpad deur het sy egter besef: "Ek is te sag vir politiek ... ek het geweet ek hoort nie daar nie en dat ek meer tuis sou wees in 'n kreatiewe kursus." Met die wete dat haar familie haar nie finansieel sou ondersteun as sy sou tou opgooi nie, het sy 'n geloofsprong geneem en deur die Nasionale Kunsteraad van Namibië (NACN) vir 'n studiebeurs aansoek gedoen.
Terwyl sy reeds van kleins af hekel as ’n kunsvorm geken het - deur haar ma se handewerk - het Lynette dit "vervelig" gevind en nooit veel daaraan aandag gegee nie. “Noudat ek hekelwerk herontdek het, verstaan ek uiteindelik hoekom my ma dit al die jare doen! Hekelwerk is vir my nogal terapeuties – en ek kan TV kyk, met vriende praat of op die rusbank ontspan terwyl ek my hande besig hou.”
As deel van uitstalling bied die galery saam met Lynette op Saterdag 8 April 'n hekelwerkswinkel aan. Die stukke wat gedurende hierdie werkswinkel geskep word, sal deel vorm van 'n installasie wat vir die laaste twee weke van die uitstalling by die galery te sien sal wees.
Bukalo Stories kan tot Saterdag 22 April besigtig word.