Van Der Aven reik nuwe EP uit

Suid-Afrika se Van Der Aven het uit die staanspoor aandag getrek toe hulle in 2020 Texx and the City se "Band Or Bust" kompetisie by die Woordfees gewen het. Daar was meer as 250 inskrywings en Van Der Aven is eenparig deur ’n paneel beoordelaars as die wenners aangewys.
Musiekvervaardiger Theo Crous was op dié paneel en sê: “Wat hierdie groep so besonders maak, is die drie-deel-harmonieë waarmee hulle werk. Ons het nog nie so iets in Suid-Afrikaanse musiek gehoor nie. Dit maak hulle musiek heeltemal uniek.”
Die opwindende groep wat uit twee Karoo broers en hul beste vriend bestaan, het in Junie 2022 hul eerste Afrikaanse enkelsnit “Heimwee” uitgereik. Daarna het hulle ook die verhoog gedeel met Spoegwolf, Elandré, Glaskas en Droomsindroom en het ook vroeër vanjaar by Danie Reënwolf se troue gespeel.
Van Der Aven stel Vrydag (30 September) ’n selfgetitelde 6-snit EP bekend ná hulle op 23 September ’n video vir “Heimwee” uitgereik het. Hierdie musiekvideo vir hul verwerking van die bekende gedig wat deur JRL van Bruggen geskryf is, was deur die talentvolle Hugo Brand in die Boland verfilm.
“Heimwee” is die eerste lied vanaf Van Der Aven se ses-snit EP. Dit bevat beide Afrikaanse en Engelse liedjies en is opgeneem by Sunset Recording Studios in Stellenbosch, met behulp van Jürgen von Wechmar. Die liedjies vertoon die omvang van die groep se besonderse talent met onder andere sagter akoestiese klanke (soos gehoor in “Easy”), sowel as rock (“Slaap jy al”) tot en met elektroniese elemente soos gehoor kan word in “Afskeid”.
Sien Van Der Aven se “Heimwee” video hier.