Van Der Aven se ‘Oud Geword’ nou op video
Kort op die hakke van die sukses van hul debuut EP (selfgetiteld Van Der Aven) wat einde 2022 uitgereik is, stel Van Der Aven hul splinternuwe enkelsnit Oud Geword bekend. Die nuwe enkelsnit is einde Mei uitgereik op alle digitale platforms en word ook vergesel deur ’n nostalgiese musiekvideo.Oud Geword is ’n alternatiewe rock lied wat gepen is deur Van Der Aven se hoofsanger en skrywer, Roelof van der Merwe.
Hy vertel: “Ons al drie is nou al oor die gevrese 30 en daar het soveel al gebeur gedurende die jare wat ons al saam musiek maak. Vanaf klein shows speel in hoekies waar niemand regtig aandag gee nie, tot shows waar hordes mense saam ons eie musiek saamsing. Vanaf drie enkellopende bachelors/studente na twee getroude manne en ’n pa van een (amper twee). Mens moet gereeld jouself stop en vra ‘Hoe het ons so oud geword?’”
Die enkelsnit was opgeneem by Bellville Studios en is vervaardig met die hulp van die musiek regisseur en kunstenaar Theo Crous. “Dit was ’n ongelooflike ervaring om met Theo te werk. Hy is een van Suid-Afrika se mees bekroonde musiek-vervaardigers en is ’n lewende rock legende. Ons het geweldig baie by hom geleer, geredeneer en baie gelag. Theo is great!” skerts Roelof.
Die samewerking van Van Der Aven en Theo Crous het ontstaan nadat die groep die heel eerste Band Or Bust-kompetisie by die 2020 US Woordfees gewen het. As wenners, het Van Der Aven die geleentheid gekry om vir Theo Crous te ontmoet en sodoende saam met hom te begin werk. Roelof vertel dat dit hulle geweldig help groei het as musikante. “Die kans om saam met Theo te werk was verseker een van die beste pryse wat ons in die kompetisie gewen het.”
Van Der Aven is ’n onafhanklike alternatiewe rock groep wat bestaan uit drie lede, naamlik Roelof van der Merwe (skrywer, sanger en kitaarspeler), Theunis van der Merwe (sanger en baskitaarspeler) en Paul Avenant (sanger en tromspeler). Die naam Van Der Aven is ’n samestelling van die lede se vanne.
Kyk die musiekvideo hier: https://www.youtube.com/watch?v=zdskv-RkfMw