Ansuné en Frieda oortref eie nasionale rekords
Baan- en veldatlete het Saterdag hul beste gegee om met goeie vertonings die land se 36ste onafhankliksheidsvieringe te gedenk tydens ‘n byeenkoms in die Onafhanklikheidstadion wat gesamentlik deur die atletiekklubs van die Universiteit van Namibië en Welwitschia-77 aangebied is.
Twee nasionale rekords in velditems is deur vroue-atlete opgestel, naamlik Ansuné Smith in die hamergooi en Frieda Iithete in die driesprong.
Die tienerjarige Smith (17) het haar eie vorige nasionale rekord van 46.75m met meer as drie meter tot 50.31 verbeter.
Dit was die eerste keer in haar loopbaan dat sy ‘n gooi van meer as 50 meter in die hamergooi kon vermag.
Smith (QSB-atletiekklub) het agterna in ‘n media-onderhoud gesê: “Ek is sprakeloos. Ons het gedink 50 m sou onbereikbaar wees, Die laaste week het vir my nie goed verloop nie. Ek het nie goeie gooie ingekry nie, ek het 'n groot insinking in my atletiek beleef en ek was die hele tyd teneergedruk.
“Ons het toe ooreengekom, laat ek net deelneem sonder enige druk en bloot vir die lekker. En toe gebeur dit, om vir die eerste keer 'n 50 m te gooi – ek het dit nog nooit tevore in ‘n oefening reggekry nie, so dit was regtig iets ongelooflik,” sê sy.
“Dis regtig 'n groot tree vorentoe en ek is nou omtrent 20 cm kort van kwalifisering vir die senior Afrika-atletiekkampioenskap in Ghana.”
Iithete het ook uitgeblink deur haar eie nasionale rekord in die driesprong vanaf 12.34 tot 12.78 meter te verbeter. Dié afstand sal haar hoop gee vir die kwalifiserende merk (13.00) vir die Afrika-kampioenskap.
Ithete, van die Namibiese Korrektiewe Dienste, het ook die verspring met 6.03 meter gewen – wat net twee sentimeter agter Ronel Moolman se lank staande nasionale rekord is wat reeds 32 jaar gelede opgestel is.
Sy het agterna gesê dit was haar eerste driesprong-kompetisie vir die seisoen en sy is hoopvol om verdere verbetering te laat gebeur. Haar visier sal beslis ook op die kwalifiserende merk vir die Afrika-kampioenskap (6.15m) ingestel wees in ‘n item waarin geen Namibiese vrou nog tot dié vlak kon vorder nie.
Uitblinkers
Die hoogste puntetotaal van die byeenkoms in ‘n enkele item volgens Wêreldatletiek se tabel was die verspringer Lionel Coetzee (DAA-klub) se wensprong van 8.12 meter, wat 1 164 punte werd was.
Coetzee is die nasionale rekordhouer met 8.27 meter sowat drie jaar gelede. Sy vertoning Saterdag het hom ook gemaklik verby die kwalifiserende merk vir die Statebondspele later vanjaar (8.05) gesien seil.
Charley Matundu van die gasheerklub Unam was die vinnigste mansnaelloper in die 100 meter-uitdunne met 10.44 sekondes (1 058 punte), teenoor QSB-klub se Gift Maswahu wat 10.58 gehardloop het (1 013 punte) en Vinacio Basson van DAA met 10.61 (1 003 punte).
Matundu was ook die beste in die 200 meter met 20.87 sekondes (1 087 punte), voor Elton Hoeseb (QSB) in 21.10.
Mahmad Bock se verskyning in die 400 m (eerste in 46.38 sekondes) was ook ‘n verblydende vertoning vir die NCS-klub.
Die belowende Marike Weitz (Windhoek Gimnasium-klub) het twee goue medaljes in die diskusgooi (44.00m) en gewigstoot (13.98m) behaal.
Nicholis du Plessis (QSB-klub) kon ook met dubbele goud spog ná sy seges in die 110m hekkies (14.39 sekondes) en 400 hekkies (54.79 s).


