Vervalste banknote gekonfiskeer

Phillepus Uusiku
Vervalste banknote is ontdek en op beslag gelê toe twee Nambiërs en ’n Rwandese verdagte gevang is waar hulle vervalste banknote by ’n winkel in Katutura gemaak het, het die Bank of Namibia (BoN) en die polisie in ’n verklaring gesê.
“Die toerusting wat gebruik is, is ook in die proses vir verdere ondersoek gekonfiskeer. Vervalste note word hoofsaaklik by klein besighede, huiswinkels en taxidienste uitgeruil. Die ontvangers van hierdie note is moontlik nie bewus van die sekuriteitskenmerke nie en word dus die slagoffer van vervalsing,” lui die verklaring.
Volgens die BoN se onlangse jaarverslag het die totale waarde van valuta in omloop gedurende 2021 op N$4,76 miljard gestaan, ’n toename van 1% in vergelyking met N$4,71 miljard in 2020.
Bespeurde vervalsings in omloop het oor vyf jaar afgeneem, het statistieke in die verslag aangedui. In 2021 het die totale waarde van vervalste banknote N$20 880 beloop. Die totale aantal vervalsings het met 115 eenhede opgetel.
Die grootste denominasie, die N$200-banknoot, was die hoofteiken vir vervalsing, met 78 eenhede. Daarmee saam is 33 vervalsings vir die N$100-banknoot opgespoor, 37 vir die N$50-banknoot, ses vir die N$20-banknoot en een vir die N$10-banknoot.
“Vervalsings bly van swak gehalte en is onder die sentrale bank se drempel van 10 stukke per miljoen in omloop, sowel as die industriestandaard van 70 stukke per miljoen in omloop,” lui die verslag.
Sekuriteitskenmerke
Lede van die publiek word versoek om hierdie drie basiese stappe te volg om die sekuriteitskenmerke op banknote na te gaan:
• Stap 1 Kyk: Kyk noukeurig na die algehele kleure, portrette en reeksnommers, lig die banknote op en soek die deurskynkenmerke en watermerke.
• Stap 2 Draai: Draai die banknote om te kyk vir kleurveranderende, dinamiese kenmerke en glansafdrukke. Gaan die veelkleurige sekuriteitsdraad aan die agterkant na.
• Stap 3 Voel: Voel die unieke kenmerke deur jou vingers aan beide kante van die banknoot te beweeg, veral oor die woorde BANK OF NAMIBIA, die hoofportret, en die Braille-kolletjies vir gesiggestremdes.
Deur hierdie maklike stappe te volg, is die sekerste manier om te verhoed dat jy die slagoffer van vervalsing word.
Die BoN en die polisie versoek die publiek om enige inligting rakende vervalsing met hulle te deel om te verseker dat skuldiges vasgetrek word.
Die wet bepaal dat waar ’n persoon skuldig bevind word aan ’n misdryf kragtens Artikel 80 van die Wet op die BoN (Wet 1 van 2020) onderworpe aan artikel 2 van die Wet op die Voorkoming van Vervalsing van Valuta, 1965 (Wet 16 van 1965), daardie persoon by skuldigbevinding strafbaar sal wees met ’n boete van hoogstens N$100 000 of met gevangenisstraf vir ’n tydperk van hoogstens vyf jaar, of met beide. [email protected]