‘Doen bietjie ondersoek na Boksfederasie se sake’
Frustrasies weens gebrekkige logistieke reëlings – insluitend die skedulering van die gevegprogram en die verskaffing van maaltye aan boksers – het afbreuk gedoen aan die Namibiese nasionale kampioenskap in amateurboks wat die afgelope naweek op Keetmanshoop aangebied is.
Laat ingryping verlede week deur die Namibiese Olimpiese Komitee (NNOK) het verseker dat een van die Namibiese Boksfederasie se veronderstelde spogbyeenkomste van die jaar darem wel afgehandel kon word – hoewel nie sonder diep ontevredenheid oor die algemene organisering en besware oor die bevoegdheid van die huidige leierskap nie.
Nadat die gevegprogram veronderstel was om laas Donderdag te begin en Saterdagaand klaar te maak, het die skedule ‘n volle twee dae agter geraak en is eers Maandag laatmiddag afgehandel.
Vrydag was daar eers lang argumente gevoer of die magte in uniform se spanne toegelaat moes word om te boks, vanweë die toernooi se groot hoeveelheid inskrywings. Soos tevore is die spanne in uniform wel toegelaat.
Hierdie vertraging het daartoe gelei dat die inweegsessies vir seniors en vroue van Vrydag tot Saterdag uitgestel is – ‘n groot ontwrigting vir boksers wat toe reeds geen voeding ingeneem het in afwagting op hierdie deurslaggewende formaliteit nie.
Vanweë sommige opponente se laat aankoms van die verafgeleë streke kon net drie van die bestemde tien geskeduleerde junior gevegte Vrydagaand afgehandel word. Die senior mans- en vroueprogram het eers Saterdag ná afloop van die junior program afgeskop.
Sondag was die Hardapstreek dus een van die spanne wat reeds huiswaarts moes keer om die volgende oggend by werkverpligtinge te gaan aanmeld, ten spyte dat van hul boksers tot semifinale Maandag deurgedring het.
Weens gebrek aan kontrole oor wie van die streekspanne se busvervoer gebruik kon maak, was daar uiteindelik te min slaapplek vir almal, terwyl die daaglikse maaltye ook as onvoldoende bestempel is.
Die nasionale amateurkampioenskap speel ‘n vername rol in die keuring van Namibiese boksers wat die land later vanjaar by onder meer die Statebondspele in Glasgow, Skotland (23 Julie tot 2 Augustus) asook die Olimpiese Jeugspele in Dakar, Senegal (31 Oktober tot 13 November) sal verteenwoordig.
ONGERYMDHEDE
Die Boksfederasie het reeds verlede jaar die verwagtinge van amateurboksers ernstig teleurgestel toe geen span soos beloof na Dubai vir die 2025 IBA Mans Wêreldamateur bokskampioenskap in Desember gestuur is nie.
Boksers wat hard geoefen het om hul ambisie van hoër louere gestand te doen, moes op die laaste hoor daar is nie geld vir die toer nie.
Tydens die openingseremonie in Dubai het die plaaslike meisie met die groot plakkaat “NAMIBIA” vooraan gestap met niemand agter haar nie; ‘n verleentheid vir die land.
Die geldverskoning word ook nie sommerso deur elke waarnemer in die sport aanvaar nie.
“Namibië was geregistreer vir die wêreldkampioenskap. Die Boksfederasie ontvang spesifiek jaarliks geld van die beheerliggaam IBA vir die bywoning van sulke toernooie, maar ons sal graag wil weet waar daai geld heen is,” sê ‘n bron in amateurboks.
Gedurende die Streek 5 Jeugspele is ‘n splinternuwe bokskryt vir die Boksfederasie aangekoop, maar wat nog nooit gesien is nie, met tot nou net onbevestigde stories oor of die bokskryt in Suid-Afrika of iewers in Namibië is. Vir die Keetmanshoop-toernooi moes MTC Nestor Tobias Boksakademie se kryt gehuur word.
Klagtes word ook opnuut geopper oor die oënskynlike verdwyning van ‘n skenking van bokshandskoene en ander toerusting van die IBA laat in 2024. Geen van die streke waarheen dit versprei sou word, het sover bekend ooit hiervan ontvang nie, met beweringe dat ‘n senior Federasie-bestuurslid die handskoene vir eie gewin verduister het en huurgeld van gebruikers vra.
VOORSTE UITSLAE
Beste junior bokser: Immanuel Ndakevondjo (Erongo)
Beste elite vrouebokser: Misha Araes (Erongo).
Beste elite mansbokser van die kampioenskap: Sinoka Sakaria (Kavango-Wes).
Beste streekspan van die kampioenskap: Erongo.
Ander uitslae soos ontvang:
Junior vroue
Elizabeth Musimane wen by verstek
Junior seuns 46 kg
Andreas Nusuku (Khomas) klop Johannes Ndeitja.
Ligvlieggewig
Mario Erastus (Oshana) klop Ervia Ipinge (Khomas).
Vlieggewig
Vission Nandago (Oshana) klop Jeremou Gowaseb (Khomas).
Ligkapokgewig
Goldburg Ekandjo (Oshana) klop Martin Marious (Ohangwena).
Kapokgewig
Joseph Usiku (Oshana) klop Herry Mukuve (Kavango-Wes).
Veergewig
Jeslen Akwaanyengwa (Erongo) klop Marin Ndiweni (Kavango-Wes).
Liggewig
Cleophas (Erongo) klop Eliakim Namapo (Oshana).
Brave Nangolo (Oshana) wen by verstek.
Ligswaargewig (80 kg)
Sebastian Wadland (Erongo) wen by verstek.
ELITE VROUE
Ligvlieggewig
Misha Araes (Erongo) klop Pegeahafo Ngesheya (Ohangwena)
Vlieggewig
Hertha Namutiwa (Erongo) klop Melissa Sekela (Khomas)
Kapokgewig
Hatani Bronn (Erongo) wen by verstek.
Liggewig
Erika Nawases (Kunene) wen by verstek.
Minimumgewig
Meriam Nghilongwa (Khomas) wen by verstek.
Weltergewig
Emily Haungeya (Erongo) klop Tuyoleni Ashipala (Oshana).
Middelgewig
Magdalena Buuyoma (Khomas) klop Ndapandula Nyanyu (Erongo).
Swaargewig
Salmi Shipesta (Khomas) klop Emma Mpande (Kavango-Wes).
ELITE MANS
Minimumgewig
Immanuel Ashikoto klop Titus Murewa (Omusati).
Liggewig
Kapokgewig
Phillip Hauseb (Khomas) klop Paulus Ndjulume (Erongo).
Veergewig (57 kg)
Elifas Imene (Uniform) klop David Frans (Erongo).
Liggewig (60 kg)
Try Again Ndevelo (Erongo) klop Nelson Nghimbwasha (Otjikoto).
Jeremio Shonyonka (Otjozondjupa) klop Tauna Ndinomuliza.
Ligweltergewig (63.5 kg)
Indongo Shilongo (Omusati) klop Lasarus Hainan (Oshana)
Weltergewig (67 kg)
Dinosaur Sakaria (Kavango-Wes) klop Amblousis Hamukwaya (Otjozondjupa).
Ligmiddelgewig (71 kg)
Johannes Findika (Khomas) klop Phillip Hamukwaya (Erongo).
Middelgewig (75 kg)
Thomas Mdiwetepo (Erongo) klop Joseph Mwashindange (Uniform).
Ligswaargewig (80 kg)
Gebhard Ipinge (Erongo) wen by verstek.
Junior swaargewig (86 kg)
Pieter Kotze (Khomas) klop Jonathan Blaft (Erongo).
Swaargewig (tot 92 kg)
Israel Hamutunya (Oshana) klop Caily Imwaka (Zambezi).
Superswaargewig (onbeperk bo 92 kg)
Joseph Isak Karasa wen by verstek.


