Naloba veroordeel verbod op huiswinkels

Tuyeimo Haidula
Die Namibië Plaaslike Besigheidsvereniging (Naloba) het planne van die Windhoek munisipaliteit om huiswinkels te sluit, veroordeel en gesê sulke dade sal die reeds hoë werkloosheidsyfers verhoog. Daarmee saam sal dit honderde mense sonder ’n inkomste laat.
Naloba se visepresident, Peter Amadhila, het hierdie opmerkings Maandag tydens ’n media-inligtingsessie op Ongwediva gemaak.
Sy kommentaar kom nadat die Windhoek munisipaliteit verlede week aangekondig het dat ’n nuwe munisipale beleid voorgestel is om kommersiële aktiwiteite soos huiswinkelbedrywighede by residensiële eiendomme in Windhoek uit te faseer.
Die munisipaliteit het ook aangedui dat nuwe aansoeke vir tuisondernemings van die hand gewys sou word.
Amadhila het gesê die besluit het skokgolwe regoor die land veroorsaak, maar veral in die hoofstad.
Hy het gesê huiswinkels – geregistreer of nie-geregistreer – bied ’n primêre bron van inkomste om brood en botter vir baie in Windhoek op die tafel te sit, en het mikro-ondernemings geword wat werksgeleenthede bied.
“Baie dokters, ingenieurs, onderwysers en ander professionele persone word gevorm met die finansiële ondersteuning van die huiswinkels wat bier, kapana en vetkoeke verkoop,” het hy gesê.
Amadhila het gesê sulke besluite word geneem sonder die konsultasie van diegene wat die meeste deur hierdie beleid geraak word.
Hy het voorgestel dat indien munisipaliteite en dorpsrade bekostigbare bemarkings- of kommersiële afsetpunte in toeganklike gebiede vestig, mense nie nodig sal hê om hulself to huiswinkels te wend nie.
“Maar omdat hierdie dienste nie aan die mense verskaf word nie, verander baie inwoners hul motorhuise en kamers in huiswinkels,” het hy gesê.
Hy het bygevoeg dat baie Naloba-lede, of voornemende lede, winkels vanuit hul huise bedryf.
“Naloba sal dus verseker dat hulle die belange van elke sakepersoon beskerm. Die Windhoek munisipaliteit moet kennis neem en die bydraes wat hierdie mikro-ekonomiese sektor in ons samelewing lewer, respekteer,” het hy beklemtoon.