Oppi-Koppi maak liplekker speserymengsel

Iréne-Mari van der Walt
Nadat Vital Cardeynaels van België na Namibië geëmigreer het, het hy probeer om ’n bekende spesery uit sy vaderland na te boots.
Toe hy dít eers onder die knie gekry het, was dit egter nie lank voordat Namibiërs nie genoeg van hierdie heerlike speserymengsel kon kry nie.
“Gedurende die Covid-tyd het almal gesukkel en ons het met ’n paar pelle begin eksperimenteer en toe kom ons by ’n spesery uit.
“Ek het ’n pel wat daarvan hou om te braai en te eksperimenteer. Ek het eintlik ’n speserymengsel van België af gebring en gevra of hy iets soortgelyks kan meng, want jy kan dit nie hier koop nie. Op die ou end smaak hierdie een selfs lekkerder as die oorspronklike,” sê Vital.
“Toe blyk dit so ’n goeie produk en so ’n lekker spesery te wees dat almal ons speserye wil hê. Ek is aangenaam verras deur hoeveel mense van ons speserye hou,” vertel Vital van sy speserymengsel, bekend as Oppi-Koppi Mixed Spices.
Die speserymengsel het sy naam gekry van die ruskamp naby Kamanjab, wat Vital saam met sy vrou, Mariaan, bestuur.
Planne is ook aan die gang om ’n Oppi-Koppi-mengsel met meer “byt” bekend te stel.
“Ons bly op Kamanjab en veral die Oshiwambo-mense wil ’n ekstra warm weergawe hê. So die tweede stap is dat ons ’n brandrissiespesery gaan maak met baie brandrissies,” sê hy.
Vital sê sy gunstelingdis om met Oppi-Koppi-speserye te geniet, is pizza.
“Ons het eers gedink hierdie spesery is reg, want jy kan hierdie speserye gebruik op jou tjips, op jou pizza, op hoender en vleis – dit is eintlik lekker op alles.
“Dis net as jy jou vleis braai, moet jy eers braai en eers die spesery op jou bord byvoeg sodat jy nie die speserye brand nie.” – [email protected]
#republikein #WindhoekExpress