Die einde is in sig

Bouwerk aan Windhoek-Okahandja-pad gaan voort
Konstruksie van die laaste stuk van die Windhoek-Okahandja-pad is aan die gang, ná die regering nog ’n betaling aan die kontrakteurs gemaak het.
Ongelukkig het begrotingsbeperkings gelei tot die wanbetaling van kontrakteurs wat om die beurt ’n vertraging in die konstruksie van snelweg meegebring het. Aanvanklik sou die pad reeds in Julie 2020 voltooi gewees het.
Na verwagting sal die pad teen die einde van volgende jaar voltooi wees, aangesien die meerderheid werk reeds gedoen is.
Konstruksie aan die nuwe pad het in Januarie 2016 begin, en afdeling een van die projek, wat 27,6 kilometer behels het, is in Januarie 2020 voltooi teen ’n koste van N$1 miljard, wat ten volle deur die Namibiese regering befonds is.
Die laaste stuk van 21 kilometer wat twee jaar gelede voltooi moes gewees het en sowat N$900 miljoen gekos het, het vroeër vanjaar tot ’n stilstand geruk.
Die maatskappye wat betrokke is by die konstruksiewerk is die plaaslike maatskappy Otesa Civil Engineering, en die internasionale maatskappy Cooperativa Muratori Cementisti Ravenna.
In ’n vorige onderhoud, het die uitvoerende hoof van die Paaieowerheid Conrad Lutombi, gesê die vertraging in konstruksie het bestedigingsimplikasies meegebring in dat meer bestee is as waarvoor begroot is, hoewel hy nie kon bevestig hoeveel dit was nie.
Hy het gesê die gevolge is met die regering bespreek en om daardie rede is die begroting vir 2022/23 vir die pad baie aangepas, en maak die owerheid werk daarvan om kontrakteurs sonder verdere vertragings te betaal sodat werk aan die gang kan bly.