Nuwe eienaars vir Lifestyle Laundrette

Waterwinkel op die koop toe
'n Groep vriende is nou ook vennote in twee nuwe besighede.
Sedert middel verlede jaar is daar ’n nuwe groep eienaars van Lifestyle Laundrette in die hoofstad.
In gesprek met een van die vennote, Chrisna Pelser, het sy gesê hulle is twee paartjies wat die groot stap gedoen het om saam die besigheid oor te neem.
“Sommer in die eerste week toe ons net mooi reg is om te leer hoe om wasgoed te was, toe kom die waterwinkel ook oor ons pad. Toe dink ons sy by onsself, ons het nou een besigheid gekoop, wat is dan nog een!”
En so het Adamsbier Water ontstaan.
Op die vraag oor hoe die vier vennote wat elkeen ander beroepe het, op hierdie punt te staan gekom het, sê Chrisna hulle het gereeld rondom die breivleisvuur gesels oor besigheidsgeleenthede en moontlikhede. “Een van ons vennote is ’n gedrewe entrepreneur, so hy sien vir baie kans en ek dink elkeen van ons het besondere eienskappe wat tot ’n besigheid kan bydra. So, as elkeen sy deel doen, het ons geweet dit kán net suksesvol wees.”
Oor wat hulle in die afgelope paar maande verrig het, sê Chrisna hulle meen dit gaan baie goed. “Ons kon nie vir alles beplan nie, maar tog voel ek ons is bevoorreg in wat ons wel kon verrig. Ons het ’n bestaande besigheid gekoop; dit is al 11 jaar oud. Dit was ’n besigheid wat van dag tot dag met goeie personeel die ding gedoen het, en vandat ons oorgeneem het, voel dit vir my dat ons maand na maand groei en daarmee saam kom nuwe planne en nuwe dinge wat ons wil doen.”
Hulle moes ook reeds nuwe wasmasjiene koop om by die aanvraag by te bly.
“Ja, sjoe. Ek het nooit geweet mens kry sulke mooi wasmasjiene nie. Die Miele Little Giants is fantasties; dit het goeie krag verbruik en is werklik top gehalte produkte.”
Wat hulle verder uniek maak is dat hulle beide huishoudelike items vir jou kan was, maar ook op ’n kommersiële skaal wasgoed was.
Ten opsigte van die waterbesigheid, sê Chrisna mense kan hulle eie waterbottels bring om vol te maak, maar daar is ook gebottelde water in die winkel te koop. “En as jy nie van ons etiket hou nie, kan jy jou eie etiket bring of ons kan een vir jou ontwerp, en ons bottel jou water dan met jou eie etiket. As jy joune dalk by die huis vergeet het, verkoop ons ook bottels hier.
Lifestyle Laundrette en Adamsbier Water is by die Maerua Lifestyle-sentrum in Centaurus-weg geleë. Kontak hulle by 061 305 212, [email protected] of besoek lifestylelaundrette.com