Mambas se JW Junius (14) staan uit in eersteliga

Krieket
As 'n blyk van erkenning is die tienerseun nader geroep om vandag twaalfdeman vir die senior nasionale oefengroep se eendagwedstryd teen Oman te wees.
Andrew Poolman

Spelers van Gobabis-krieketklub en Green Mambas het die statistiek oorheers in die Sentraal 30-boulbeurt eersteliga van Krieket Namibië wat die afgelope naweek afgesluit is.

Green Mambas van Windhoek was gemotiveerd om in die eindstryd die bordjies te verhang, ná hul enigste nederlaag van die seisoen in ‘n wegwedstryd teen Gobabis, wat onoorwonne ná vyf wedstryde was.

‘n Reëlbepaling van die 30-boulbeurt eersteliga ter bevordering van die ontwikkeling van die spel is dat elke span in elke wedstryd ‘n minimum van vyf spelers van 17 jaar of jonger moet inspan.

Die 14-jarige skoolseun JW Junius, aanvangskolwer van Green Mambas, was die uitstaande lopiemaker in die liga met twee honderdtalle – 155 van 83 balle teen Unam Zebra se tweedes, en 116 nie uit nie van 67 balle teen Trustco United se derde span.

Junius se algehele impak het hom ook die mees waardevolle speler in die liga gemaak (704 punte), voor Janneman Deysel (Trustco United 3) met 476 punte, die Gobabis-aapr Willem Lottering en Armand Smith (onderskeidelik 429 en 396 punte) en die veelsydige Johre Botha (Wanderers 3, 394 punte).

As erkenning van Junius se potensiaal het die senior nasionale spanafrigters vir Junius genooi om vandag (Dinsdag) by die Wanderersveld die twaalfdeman vir die Namibiese elftal se vriendskaplike 50-beurtwedstryd teen die Oman-toerspan te wees.

Gobabis se twee regterarm-naatboulers Willem Lottering en Willie Swart het boaan die boulerslys met die meeste paaltjies klaargemaak.

Abrie Fourie van Green Mambas was die toonaangewende paaltjiewagter met drie vangskote, twee indirekte uithardlope en vier kolwers gestonk.

Gobabis sal in die nasionale eersteliga se eindstryd teen die kusstreek se wenner Blue Waters te staan kom, op ‘n plek en datum wat deur Krieket Namibië bvestig sal word.

 

TOPBOULERS (meeste paaltjies)

1 Willem Lottering (Gobabis) vier wedstryde, 18.1 boulbeurte, 10 paaltjies, beste 4/28, ekonomie 3.41.

2 Willie Swart (Gobabis) drie wedstryde, 17 boulbeurte, 9 paaltjies, beste 5/24, ekonomie 3.59.

3 Michau Hugo (Wanderers 3) vyf wedstryde, 22 boulbeurte, 9 paaltjies, beste 2/19, ekonomie 7.82.

4 Janneman Deysel (Trustco United) ses wedstryde, 23.1 boulbeurte, 8 paaltjies, beste 4/18, ekonomie 4.66.

5 Johre Botha (Wanderers 3) drie wedstryde, 15 bb, 8 paaltjies, beste 3/26, ekonomie 7.93.

6 Joss Zondagh (Green Mambas) vyf wedstryde, 27 bb, 7 paaltjies, beste 2/13, 106 leë balle, ekonomie 3.70.

7 JW Junius (Green Mambas) vyf wedstryde, 26 bb, 7 paaltjies, 1/23, ekonomie 5.69.

8 Johan Geldenhuys (Green Mambas) vyf wedstryde, 23 bb, 6 paaltjies, 2/12, 93 leë balle, ekonomie 4.22.

9 Vincent Erasmus (United 3) vyf wedstryde, 22 bb, 5 paaltjies, beste 2/27, ekonomie 4.91.

10 Benjamin Ishaan (Wanderers 3) drie wedstryde, 11 bb, 5 paaltjies, beste 3/20, ekonomie 8.00.

 

TOPKOLWERS

1 JW Junius (Green Mambas) vier kolfbeurte, 331 lopies, 21x4, 22x6, twee honderdtalle, hoogste 155, kolftempo 180.87, gemiddeld 110.33.

2 Armand Smith (Gobabis) drie kolfbeurte, 225 lopies, 15x4, 22x6, een honderdtal, hoogste 217, kolftempo 202.70, gemiddeld 112.50.

3 Rowan Erasmus (United 3) ses kolfbeurte, 221 lopies, 21x4, 2x6; een vyftigtal, hoogste 70, kolftempo 84.35, gemiddeld 44.20.

4 Nirav Ladani (Unam Zebra 2), twee kolfbeurte, 179 lopies, 16x4 14x6; een vyftigtal, een honderdtal; hoogste 119; kolftempo 226.58, gemiddeld 89.50.

5 Johre Botha (Wanderers 3) drie kolfbeurte, 127 lopies, 7x4 3x6; een vyftigtal, hoogste 86, kolftempo 127.0, gemiddeld 127.0.

6 Alexander Parker (Green Mambas) drie kolfbeurte, 122 lopies, 10x4 4x6, een vyftigtal, hoogste 78, kolftempo 114.0, gemiddeld 122.0.

7 Kobus Brand (Gobabis) drie kolfbeurte, 115 lopies, 4x4, 14x6, hoogste 43, kolftempo 176.92 gemiddeld 57.50.

8 Ulrich Fortuin (Unam Zebra 2) twee kolfbeurte, 108 lopies, 6x4, 9x6, een honderdtal, hoogste 101, kolftempo 152.11, gemiddeld 108.0.

9 Janneman Deysel (United 3) ses kolfbeurte, 104 lopies, 8x4 6x6, hoogste 30, kolftempo 135.06, gemiddeld 52.0.

10 Armin Fleming (United 3) vyf kolfbeurte, 104 lopies, 3x4, 4x6, hoogste 49, kolftempo 78.79, gemiddeld 20.8.